WEST is BEST. Week ná week wapper die plakkaat met dié woorde in die Idols-gehoor – en word dit waar,  sal Pieter West, die knaap met die eiesoortige rasperstem, dalk net ’n droom bewaarheid wat so ampers stilletjies tussen syfers gesterf het.

Sy naam is eintlik Pieter Westhuis Botes. Hy is amptelik die koelste rekenmeester in Suid-Afrika. Dié 25-jarige kan maar enige dag Mara Louw se boeke kom balanseer . . . en die res van die land s’n as jy so kyk na die aanhang wat Pieter in die Idols-kompetisie geniet.

Die Bloemfonteiner met die skaam glimlag heet deesdae Pieter West, maar dis nie omdat die outjie sonder enige musiekopleiding nou grootkop gekry het nie; dis net dat hy na Afrikaans én Engelse kykers moet vry, verduidelik Idols se rasperstem-rocker.

Die man wat tot ’n paar jaar gelede net by braaivleisvure gesing het, het nou vir hom ’n plek in Idols se top-10 losgesing, al was hy tot verlede jaar doodskaam om sy mond voor mense oop te maak. Nou sing hy voor duisende in die hoop om die volgende Idol te word, vertel hy in die Idols-huis in Randburg waar ons gesels.

Dis ’n reuse-sprong vir ’n man wat midde-in die lang wag in die tou by die Idols-oudisies besluit hy’t nou genoeg gehad, nou gaan hy maar huis toe, hy gaan mos in elk geval nêrens kom nie...

Hy’t sewe-uur in die oggend in die tou gaan staan. “Dit was Mei, en ysig koud, en dit het ’n uur en ’n half geneem om tot binne-in die gebou te vorder,” vertel hy. Teen twaalfuur het hy genoeg gehad, en sy plek in die tou prysgegee. Maar die groepie vriende wat hom kom ondersteun het, wou van niks weet nie.

Hulle het hom oorreed om eers net ’n rukkie by ’n vriend se huis te gaan kuier, en daar het hulle hom omgepraat om tog te probeer.

“Ek is toe gedwing om aan Idols deel te neem, laat ek dit nou maar erken,” lag hy. “My vriende het sterker in my geglo as ek self.”

Teen 15:30 was hy terug in die tou, en eindelik was hy die laaste mens wat in Bloemfontein ’n oudisie afgelê het. En ja, dit was senutergend. “Ek is seker die kykers kon sien ek is rooi in die gesig, en die feit dat ek vooraf ontsettend baie water gedrink het, het nie gehelp nie,” lag hy.

Maar alles was vergete toe hy ná Bruce Springsteen se Dancing in the Dark ’n duidelike ja van die gevreesde Randall Abrahams kry.

En toe hy hoor hy is deur, het hy dadelik vir pa Hennie en ma Faith gebel, en toe vir sy ouma Jean von Solms van sy grootword-dorp, Koffiefontein.

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 9 September 2010