Dit ly geen twyfel nie Dinsdag se dramatiese gebeure waarin adv. Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV), die minister van finansies, Pravin Gordhan, van bedrog en diefstal aangekla het die voorspel is tot die laaste bedryf in pres. Jacob Zuma se rampspoedige ampstyd. Gordhan word egter nie aangekla oor hy bedrog gepleeg het nie – hy word polities vervolg omdat hy besig is om wanbesteding, korrupsie, bedrog en die toeken van ongemagtigde tenders te bekamp. Hy word ook vervolg omdat adv. Thuli Madonsela, die openbare beskermer (OB), op die punt staan om ‘n plofbare verslag oor staatskaping bekend te stel.

Dis slegte nuus vir ‘n hele netwerk van korruptes, bevoordeeldes en politici. Gordhan is ‘n sigbare en wesenlike bedreiging vir staatskapers – en daarom moet hy verwyder word, op enige manier denkbaar.

Madonsela is op pad uit en haar opvolger – wat deur iemand in die presidensie benoem is – neem by haar oor.

Daar is nou al vir ‘n paar jaar ‘n stryd tussen staatskapers, of “rentseekers”, en “constitutionalists” (wat die oppergesag van die reg respekteer) onder die politieke elite.

Eersgenoemde groepering probeer toegang kry tot staatshulpbronne sodat hulle dit vir eie gewin kan uitbuit en leegsuig. Laasgnoemde is diegene – soos Gordhan en sy kollegas – wat probeer om daardie hulpbronne wettig te bestuur en aan te wend.

Vrydag is die laaste dag van adv. Thuli Madonsela, openbare beskermer (OB), se dienstermyn. Sy het in Maart vanjaar ‘n ondersoek geloods na bewerings rondom staatskaping, dit na die dramatiese gebeure in Desember verlede jaar toe Zuma die destydse minister van finansies, Nhlanhla Nene, afgedank het en aantygings deur senior ANC-figure (insluitend Nene se adjunk) dat die Guptas by kabinetsake inmeng.

Madonsela probeer al lank om behoorlike antwoorde uit Zuma te kry en hy het die afgelope week geweier om haar te help.

‘n Ingeligte, met eerstehandse kennis van Gordhan se denkrigting, sê die OB se verslag bevat “plofbare, verdoemende” bewyse van staatskaping, Zuma se verhouding met die Guptas en hul rol daarin.

Daar is glo besonderhede van die omstandighede waarin Nene afgedank is en hoe sy plaasvervanger, Des van Rooyen, Gupta-kornuite op dag een na die tesourie ontplooi het.

Die klagte teen Gordhan is dus deel van ‘n groter skaakspel waarin Zuma en Gordhan nie net die hoofspelers is nie, maar ook die verpersoonliking van die styd tussen “rentseekers” en “constitutionalists”.

“Hierdie is ‘n manier vir die ‘rentseekers’ om die aandag af te lei van die verwagte bom wat die OB gaan los. Dis natuurlik ook ‘n verdedigingsmeganisme (van Zuma en die ‘rentseekers’),” het dié ingeligte gesê.

Gordhan is vasbeslote om sy mandaat in terme van die Grondwet en ander wetgewing uit te voer – maar sy teenstanders beskik oor geweldige institusionele mag (die presidensie, die nasionale vervolgingsgesag, polisie, intelligensiedienste en verwante staatsmasjienerie). Die finansminister en sy kollegas is op die oomblik onder geweldige druk. “The good guys are losing at the moment,” het een Dinsdag gesê. Die “rentseekers” gebruik hul greep op instellings soos die presidensie en die vervolgingsgesag om die “constitutionalists” te dwing om bes te gee. Daar is ‘n paar maniere om dit reg te kry, maar deur Gordhan aan te kla (hoe flou die klagte ook al is) word sy reputasie beswadder en maak dit die pad oop vir optrede teen hom.

Zuma het drie aantreklike opsies

1. As staatshoof kan hy die minister vra om opsy te staan hangende die hofproses.

2. As ANC-leier kan hy kader Gordhan skors ingevolge ‘n ANC-resolusie van 2013.

3. Hy kan die kabinet skommel.

Al Zuma se opsies, asook die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se “bona fide” besluit om Gordhan aan te kla, kan prosedureel en administratief geregverdig word.

Abrahams het ‘n groot deel van die nuuskonferensie bestee om te verduidelik dat daar geen politieke inmengery was nie, wat die NVG se wetlike mandaat is en hoe daar besluit is om Gordhan aan te kla. Die grond is dus voorberei om enige bevraagtekening van onbehoorlike besluitneming af te skiet.

Indien die “rentseekers” daarin slaag om hierdie beslissende stryd te wen sal dit verreikende gevolge vir ons demokrasie inhou: 1. Die tesourie sal gekaap word en nog koppe sal rol. Pogings deur Gordhan en senior amptenare soos Kenneth Brown, die tesourie se hoofverkrygingsbeampte (wat groot tenders en aankope deur die staat moet evalueer), om wanbesteding en korrupsie te bekamp sal sneuwel; 2. Die onafhanklikheid van die vervolgingsgesag, reeds kwaai onder verdenking, sal vernietig word. Regslui soos prof. Pierre de Vos en ander reken die klagte van bedrog is dun. Boonop is dit vreemd dat spesalis-vervolgingseenhede van die NVG ingeroep word om ‘n bedrogsaak te hanteer, wat dit duidelik maak Gordhan word polities vervolg. 3. Staatskaping sal in felheid toeneem en institusionele korrupsie sal erger raak; staatshulpbronne sal tot voordeel van ‘n klein elite aangewend word en vertroue in die oppergesag van die gereg sal in die hek duik. Zuma het nou vir die soveelste keer gewys waartoe hy in staat is en dit bevestig die staatskapers sal niks en niemand ontsien nie om hul belange te beskerm.

Die besluit om Gordhan aan te kla gaan Zuma se opponente egter oplaas dwing om sigbaar en daadwerlik op te tree. En dis hoogtyd dat hulle uit die skadu’s kom en Zume en die staatskapers se hegemonie uitdaag.

KLIK HIER vir die Ministerie se verklaring rondom die Valke

KLIK HIER vir die verklaring deur Gildenhuys Malatji namens minister Pravin Gordhan

- Pieter du Toit is ‘n politieke joernalis en assistentredakteur by Huisgenoot.