Dit is ’n “kwessie van tyd” voor die baasspeurder, wat soveel moordenaars agter tralies gesit het, sy stryd met sy eie reeksmoordenaar verloor.

Piet Byleveld is Dinsdag in die Wilgeheuwel Hospitaal in Roodepoort opgeneem.

“Die internis het my vanoggend laat weet dat dit enige tyd kan wees,” het Elize, sy vrou, gesê.

Piet is met fase vier longkanker gediagnoseer wat na sy bynier en lewer versprei het.

“Ons probeer hom so gemaklik as moontlik hou.

“Ek bring my dae deur en slaap langs sy bed,” het Elize emosioneel oor die foon gesê.

Piet het talle moordenaars soos die Wemer Pan-moordenaar en Leigh Matthews se moordenaar, Donovan Moodley vasgetrek.