Hy het skielik besef die samelewing vergeet soms van mense met spesiale behoeftes, vertel Pierre van daardie dag. “Dis belangrik om betrokke te raak en ’n verskil te maak.”

Hy het toe saamgespan met Rayno en nog ’n vriend, Leon Roelofzs, en die stigting Be the Hero opgerig.

Deur middel van spesiale gholfdae samel hulle geld in vir Club 21 en Pathways-Pretoria. Club 21 ontwikkel en bemagtig lyers van Down se Sindroom, terwyl Pathways-Pretoria leerders met ernstige gebreke onderrig.

Albei instellings het ’n groot en dringende behoefte aan nuwe geboue om te voorsien in die behoeftes van dié spesiale kinders, verduidelik Pierre.

“Behalwe die nuwe geboue,” sê Pierre, “is daar ook ’n behoefte aan geldelike ondersteuning vir ouers wat nie die skoolgeld kan bekostig nie, gepaste voertuie vir die vervoer van die kinders, kommunikasie-toestelle, rekenaars en nog meer.”

  • Die volgende gholfdag is op Donderdag 8 Mei by die Woodhill-buiteklub in Pretoria waar Pierre ook as gasheer sal optree. Van die ander bekendes wat ook op die baan te sien gaan wees, is Darren Scott, Simon Hill, David Levinsohn, Breyton Paulse, Arno Jordaan, Bok van Blerk en Robbie Kruse.
  • Besoek betheherofoundation.org vir nog inligting oor hierdie liefdadigheidsorganisasie.