Pierce Brosnan is vasbeslote om die verlies van sy aangenome dogter, Charlotte, te verwerk en is reeds terug op die stel van November Man in Serwië.

Charlotte is Vrydag 28 Junie in Londen dood aan eierstokkanker, dieselfde siekte wat die lewens van haar ma en ouma geëis het.

Pierce (60) is platgeslaan deur Charlotte se dood en probeer sy verlies nou verwerk deur hom met werk toe te gooi.

Iemand in die binnekring het aan UsMagazine.com gesê: “Pierce is buite homself noudat hy weer hierdie soort verlies moet verwerk.”

Die Ierse akteur probeer ook daar wees vir Charlotte se man, Alex Smith, en haar kinders, Isabella (14) en Lucas (8).

Die familievriend het gesê: “Hy probeer haar familie troos omdat hy al daardeur is. Hy gaan maar een voet voor die ander sit en hoop mense sal nou meer bewus raak van hoe ’n groot tragedie kanker is.”

Die familie was “baie hoopvol” dat Charlotte sou herstel. Die bron het vertel: “Daar was hoopvolle oomblikke dat hulle gedink het sy het die siekte geklop. Dit maak die verlies soveel erger.”

Charlotte en haar broer, Christopher, is die kinders van Pierce se eerste vrou, die Australiese aktrise Cassandra Harris. Pierce het hulle aangeneem toe hul pa, Dermot Harris, in 1986 oorlede is. Cassandra is laat in 1991 oorlede.

Cassandra en Pierce het ook ’n biologiese seun; Sean is in 1983 gebore. Pierce is in 2001 met die joernalis Keely Shaye Smith (49) getroud. Hulle het twee kinders: Dylan (16) en Paris (12).