Die 27-jarige aktrise van Gossip Girl het in Oktober verlede jaar op haar webtuiste Preserve onthul sy is swanger met haar en Ryan se kind.

Volgens Page Six is die egpaar se gesonde baba in Desember gebore. Die babatjie se geslag is nog nie amptelik bevestig nie. Blake het blykbaar naby hul huis in Bedford, New York, die lewe geskenk.

Verlede jaar was daar gerugte dat Ryan en Blake se kleinding ’n dogtertjie is, maar die 38-jarige akteur van Green Lantern het vroeër ontken hulle weet die baba se geslag.

“Ek is net opgewonde dat ek ’n maat het,” het hy vroeër aan die tydskrif People gesê. “Ons weet nog nie of dit ’n seun of dogter is nie, maar wat dit ook al is, jy het hierdie verbinding met die werklikheid wat nooit weggaan nie.”

Ryan het ook vertel hoe hy voel om vir die eerste keer pa te word.

Die ster wil die hele proses met optimisme benader.

“Baie nuwe pa’s is geneig om te tob oor die foute wat jy nie wil maak nie,” merk hy op. “Ek is in daardie stadium waar ek in die eerste plek daarop fokus om oop en vol begrip te wees en ook baie ruimte vir foute te laat.”

Blake is in ekstase oor moederskap. Sy het vroeër gesê dit was altyd haar droom om ’n ouer te wees.

“Dit is iets wat ek altyd wou hê vandat ek ’n dogtertjie was… ek het geweet ek wil baie kinders hê, want ek kom uit ’n groot gesin. Dit was dus nog altyd belangrik vir my,” het sy aan die tydskrif Us Weekly gesê. “Dis net die opwinding dat dit eindelik hier is.”

Ryan en Blake is in 2012 getroud.

© Cover Media