Sorina is nou amper 12 weke swanger. “Dit was erg om dit amper drie maande weg te steek,” het sy aan Huisgenoot.com gesê. Hulle wou die swangerskap ’n kort rukkie vir hulself en hul naaste familielede hou voor hulle die wêreld daarvan vertel. “Ons is vreeslik opgewonde! Dit is ’n groot seëning. Bambino is gesond, waarvoor ons baie dankbaar is,” het sy bygevoeg.

Die paartjie weet nog nie of dit ’n seuntjie of ’n dogtertjie is nie, maar Sorina sê Braam het sy vermoedens: “Wanneer ek huil, sê hy dis ’n dogtertjie. Wanneer ek kwaad word, sê hy weer dis ’n seuntjie!

“Ons sal graag wil weet of ons blou of pienk verf moet koop, maar vir eers koop ons net wit babaklere,” spot sy.

Sorina sê sy vat dit baie rustig ter wille van hul “bambino” en sal die album wat sy van plan was om teen April volgende jaar uit te reik, eers bietjie terughou. “Bambino het ons bietjie voorgespring,” sê sy en lag. Die baba sal na verwagting die 19de April gebore word.

“Ek sal eers nog kan perform, maar ek weet nie vir hoe lank nie. Wanneer ek eers ’n groot bababoep het, sal ek nie meer daai moves kan gooi nie!”

-Shané Barnard