Wil jy die kwik laat styg met jou kookkuns? Sit die kinders in die bed en bedien hierdie wasabi-steakslaai deur Checkers se Giggling Gourmet, Jenny Morris.

Genoeg vir twee mense as ’n hoofgereg

Hierdie heerlike steakslaai kan jy sommer vinnig aanmekaarslaan nadat die kinders gaan slaap het. Sluk dit af met ’n lekker speseryagtige Odd Bin Shiraz.

Bestanddele

olyfolie

300 g goed verouderde picanha-steak

sout en vars gemaalde witpeper

Slaaisous

15 ml (1 e) geroosterde sesamsaad

30 ml (2 e) vars lemmetjiesap

1 vet knoffelhuisie, fyngedruk

2,5 ml (½ t) gerasperde gemmer

15 ml (1 e) sojasous

15 ml (1 e) vissous

10 ml (2 t) heuning

10 ml (2 t) wasabi-pasta

15 ml (1 t) sesamolie

30 ml (2 e) grondboonolie

5 ml (1 t) goeie mayonnaise

Slaai

1 klein rooi ui, in baie dun skywe gesny

1 rooi soetrissie, in dun skywe gesny

30 g wilde roket

1 ryp avokado, geskil en in skywe gesny

8 radyse, in dun skywe gesny

12 kersietamaties, gehalveer

¼ komkommer, in blokkies gesny

1 klein botterblaarslaai, gewas en blare geskei

Garnering

15 ml (1 e) geroosterde sesamsaad

Metode

  1. Vryf olyfolie aan die steak, geur met sout en peper en skroei in ’n warm pan tot soos jy daarvan hou. As jy die steak gaargemaak het na jou smaak, laat rus dit 10 minute voor jy dit in dun skywe sny.
  2. Slaaisous: Klits al die bestanddele saam.
  3. Rangskik die slaaibestanddele op ’n plat bord, bedek met die steak, bedruip met die slaaisous en bestrooi met die sesamsaad.

- Jenny Morris

e=eetlepel, t=teelepel, k=koppie