Op 25 April 2013 het Huisgenoot ‘n draai by PG se huis op sy plaas naby Rysmierbult in die Noordwes gemaak. Hy was toe reeds gediagnoseer met prostaatkanker. Toe het hy reeds al getob oor die dood.

Lees PG se laaste, merkwaardige onderhoud met Huisgenoot hier.

Enige oorhandiging van ’n prys benader hy met bewing en vrees, sê PG du Plessis.

“Jy staan daar voor die mense; jy’s bang jy maak ’n gek van jouself. Jy’s so bly dis verby wanneer jy klaar is.”

Hy praat van die Fiësta-prys waarmee kykNET hom pas bekroon het vir sy lewenslange bydrae tot die Afrikaanse skryfkuns.

’n Ou kan nou lieg en sê dit is nie, maar dit is. Dit wys jou iemand het jou da’m raakgesien.”

Ja, hy’s bly, beaam hy. “Enige erkenning is altyd welkom. ’n Ou kan nou lieg en sê dit is nie, maar dit is. Dit wys jou iemand het jou da’m raakgesien.”

Met twee vingers wat ’n sigaret tussen hulle vashou, beduie hy na sy skryfkamer in die klein klipgebou. “As jy tussen daai klippe sit, dan twyfel jy baie.”

Waaroor wil ek nog praat? vra hy omgesukkeld toe die onderwerp van sy nuutste prys afgehandel is. Sy lewe, sê ek, sy hoogtepunte, sy loopbaan.

“Ja, dit klink na ***,” sê hy, “maar kom ons gaan maar aan.”

Marie, sy vrou, wil gaan kussings haal vir die tuinstoele, want ons sit hier buite om ’n tafel.

“Ag, liefding,” sê PG vir haar, “laat hulle hard sit, gots.”

Ons sit op ’n warm namiddag in die vroeë herfs onder ’n yslike eikeboom hier op hul plaas naby Rysmierbult in Noordwes. Die bome staan stil teen die blou lug, glinsterend, asof dankbaar vir soveel somer in April. Op die tafel lê PG se brilkassie, sy BlackBerry en Peter Stuyvesant-sigarette met die waarskuwing in blou op die boksie: “Danger: Smoking causes heart disease.”

“Jirre tog, ja,” hy hét al probeer ophou. “Ek weet nie hoeveel duisend keer nie. Ek het dit twee keer reggekry. Nou rook ek sterk.”

Hy steek een aan; laat hom tussen twee vingers hang tot die as lank en grys wankel. Oor sy gesondheid wil hy nie veel praat nie, sê net: “Daar is kwale, maar nou nie so dat ek dit in die openbaar kan noem nie, jy weet. Origens voel ek heeltemal voldoende en ek is baie trots daarop dat ek op 78 kan sê die mense wil nog my werk hê.”

En hoe! Die volk kry nie genoeg van PG nie. Net vanoggend nog het hy episode 10 van ’n nuwe TV-reeks vir kykNET klaar  geskryf: halfvier opgestaan; deurgedruk tot hy nog ’n hopie wit papiere op sy houttafel kon neersit.

Die naam is Pantjieswinkel-stories, en ja, dis soos sy destydse groot treffer Koöperasiestories.

“Jy weet,” sê hy, “Koöperasie-stories het nie sleg afgegaan nie. Toe sê kykNET hulle soek iets soos daai.” Dit sal seker volgende jaar uitgesaai word.

Op ’n kol brrr-brrr sy BlackBerry op die ystertafel. Dis ’n e-pos oor die reaksie op sy radiodrama Teerling, wat onlangs op RSG uitgesaai is. Hy lees hardop deur die kommentare: “Fenomenaal. Wow. Uitstekend. Puik. Briljant.”

Lag ingenome. “Fantasties. Nog, nog, nog. Wonderlik. Meevoerend.” Tussen die byvoeglike naamwoorde deur duik sy naam ook af en toe in volsinne op: “PG is uitmuntend. PG bly die beste. PG is ’n meester.”

Musiek in sy ore, kan ’n mens sien, maar hy baai net ’n minuut of wat daarin voor hy die foon eenkant toe skuif en sy beskuit in die koffie doop wat Marie gebring het. Al die lofbetuigings is “baie gaaf”, sê hy, maar hy’s ’n Calvinis, hy steur hom net aan die slegte.

En as jy die mense moet glo wat jou prys, dan moet jy dié glo wat jou slegsê ook.

“En as jy die mense moet glo wat jou prys, dan moet jy dié glo wat jou slegsê ook. Ek gaan nie begin name noem nie, ek haat die bliksems te veel. Goddank, die meeste is al dood.”

Met ’n plat hand vryf hy die krummels van sy mond af. “Jong, ek het nog niks gesê wat ek dink in die artikel behoort te kom nie,” sê hy en steek nog ’n sigaret aan.

Waarop hy trots is, is dat hy die “laaste groot deel” van sy lewe ’n dak oor hul koppe kon hou met sy skryfwerk.

“Dit is vir my belangrik. In die proses het ek baie gehoereer met die talent, maar so what ?” Sy blou oë dans.

“Ons slegte vroue sê nie nee nie. Sit die geld op die bedkassie en doen wat jy lekkerkry.

“Nee, die ding waaroor ek die spytste is, is dat ek te min geskryf het in my lewe. Jirre, ek kon baie meer gedoen het, maar ek het my tyd verbeusel met allerhande sondes.”

Soos?

“Sport, jy weet, sulke goed,” skerts hy en lig sy een woeste wenkbrou tot amper in die eikeboom. “Ek’s sommer lus en begin bieg.” ’n Grinnik. “Dán het jy ’n storie . . .” Maar hy bedink hom, sit vooroor, lag skudskud-hoes-hoes. “Nee, o jinne . . .”

Later stap ons na sy skryfkamer om daar foto’s te gaan neem. Hy loop vooroor, skuifel grts-grts met sy ou Grasshoppers deur die droë blaremat. Hier, in hierdie klipkamer, het sy jongste roman gebeur: die bekroonde Fees van die Ongenooides.

Hier, agter sy lessenaar op die swart rekenaar langs die groot, ronde asbak vol geel stompies. Links bo by die boekrak waarin al sy gepubliseerde werke staan, is ’n lysie geplak waarop daar boaan in sy handskrif staan

“MOET” en onderaan als wat hy nog wil klaarmaak.

Dis sy vloek en sy seën, dié ding wat hom so aanhou dryf. “Hoor hierso,” sê hy, “as ek soggens moet opstaan sonder ’n gewete oor wat ek gister nié gedoen het nie, dan weet ek nie hoe ek gaan voortlewe nie. “Ek is verslaaf aan my gewete.

“Ek voel gedurig ek kon meer gedoen het.

“Maar dis erg om hier op jou oudag te sit en jy moet ’n blerrie ding klaarmaak en daar’s geen uitkomkans nie. Jy sit partymaal hier en dan wil jy rugby kyk en jy moet skryf; dan wonder jy hoekom jy dit doen. Hemel.”

In die badkamer van sy skryfplek staan ’n paar voos tandeborsels in ’n glas, ’n swart fynkam vol donsies, ’n halfleë buisie Aquafresh, gebruikte skeermesse, ’n outydse skeerborsel. Als so gewoon, te gewoon vir ’n meester.

Ek kan nie meer ’n nuwe hond kry nie, want die dônner gaan my oorleef.

Maar meesters lewe ook en hulle gaan ook dood. Daarvoor is hy nie bang nie, sê PG. Vir die hóé ja, maar nie vir die wanneer nie.

“Ek kan nie meer ’n nuwe hond kry nie, want die dônner gaan my oorleef. Verstaan jy wat ek probeer sê?” En wanneer jy dood is, sê hy, is jou gene al wat jy nalaat. Daarvan het hy al byna net soveel soos pryse: twee groot kinders, vyf groot kleinkinders “en hulle’s almal half slimmerig; so kom ons praat nie oor hulle nie.” Elke Desembermaand kom die hele lot, “dan moet jy hierdie plaas sien”.

’n Tevrede glimlag. Dís sy rykdom en seën, nie die pryse nie. “Ek weet nie wat hulle met daai klomp pryse gaan maak ná my dood nie. Hulle kan dit gaan vasmessel aan die graf.”

Intussen kom daar dalk weer ’n roman. “Daar’s nog een, ja,” antwoord hy voor ek die vraag klaar kan vra. “Of ek hom ooit gaan skryf en klaarkry, weet ek nie.”

As jy in beseringstyd is en jy weet nooit wanneer die eindfluitjie gaan blaas nie, dan help dit nie om jou grootgat te hou oor wat jy gaan doen nie.

Hy sit terug, kyk stip, sê gelate: “As jy in beseringstyd is en jy weet nooit wanneer die eindfluitjie gaan blaas nie, dan help dit nie om jou grootgat te hou oor wat jy gaan doen nie.” Maar skryf, sal hy aanhou skryf, sê meester PG. En solank hy skryf soos hy skryf, sal die mense aanhou pryse gee.

Só word PG onthou