’n 19-jarige Amerikaanse grootwildjagter, Kendall Jones, is die afgelope week in die spervuur oor haar foto’s op sosiale media waarin sy spog met die wilde diere wat sy geskiet het.

Diereregte-aktiviste het Kendall, ’n student en rasieleier aan die Texas Tech-universiteit in Amerika, as ’n monster bestempel, terwyl haar ondersteuners sê haar stokperdjie is wettig en dat trofeejag boonop baie vir die bewaring van bedreigde spesies doen.

[caption id="attachment_77943" align="aligncenter" width="450"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Die storm het losgebars nadat Kendall ’n publieke blad op Facebook geskep het waar sy foto’s deel van onder meer zebras, leeus, seekoeie, luiperds en olifante wat sy doodgeskiet het. Op die foto’s poseer die rasieleier glimlaggend langs die diere.

Sy word nou deur ’n petisie in die gesig gestaar wat eis dat haar blad van Facebook verwyder moet word omdat dit dieremishandeling aanmoedig.

Dit het in een week reeds 40 000 ondersteuners gekry.

’n Tweede petisie is in Suid-Afrika geloods wat eis dat Kendall geheel en al verbied word om in Afrika grootwild te jag.

[caption id="attachment_77944" align="aligncenter" width="412"]Foto: Facebook Foto: Facebook[/caption]

Sy het op haar Facebook-blad geskryf dat sy in 2015 graag haar eie jag-program op TV sal wil aanbied, en die petisie lui dat Kendall weerlose en bedreigde diere uit Afrika gebruik om haar eie gewildheid te bevorder.

Bronne: Daily Mail, International Business Times, Huffington Post