Meelwurmsjokolade, skerpioene in stokkielekkers, buffelwurm-en-salsa-ryskoekies, sjokoladebruintjieverrassings en roomkaas-en-kriek-voupakkies was van die heerlikhede wat ’n opwiprestaurant Woensdag aangebied het vir mense wat van ’n bietjie entomofagie (die gebruik om insekte te eet) hou.

Die plaagbeheermaatskappy Rentokil het hierdie heerlikhede by die Cresta-inkopiesentrum in Johannesburg voorgesit om die ander sy van plaagbeheer te vertoon.

Dit was eintlik bedoel as ’n prettige oefening wat deel was van die maatskappy se korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheid eerder as om ’n nuwe geldmaakfoefie te skep, het Lemay Rogers, die maatskappy se bemarkingsbestuurder, Donderdag gesê.

Die insekte was darem nie van die maatskappy se plaagbeheerbedrywighede afkomstig nie.

“Ons het hulle deur ’n verskaffer in die VK ingevoer aangesien ons nie ’n plaaslike verskaffer kon opspoor nie. Hulle word in ’n steriele omgewing geteel, gevoer met met kos wat geskik is vir menslike gebruik en dan gevries, want dis die menslikste manier om hulle dood te maak.”

Nadat hulle gevries is, word hulle droog gebraai en verpak.

Die eerste “pestaurant” het drie jaar gelede in die VK geopen, waarna die konsep na verskeie lande wêreldwyd uitgebrei is. Verlede jaar het die nuwigheid sy weg Kaapstad toe gevind en vanjaar was dit Johannesburg se beurt.

Volgens Lemay het die insekte gemengde reaksie ontlok. Party mense het hul afkeer getoon, terwyl ander nie omgegee het om hulle te eet nie.

“Nadat hulle oor die aanvanklike grilfaktor was, was alles in die haak,” het hy gesê.

Insekte verskaf meer proteïne, bevat minder vet, vervaardig minder metaan en neem minder plek op as lewende hawe.

“Soos die wêreld nou aangaan, sal ons verplig wees om ander volhoubare voedselbronne te soek,” het Lemay bygevoeg.

Bron: News24