Lede van die Suid-Afrikaanse Polisiediens het Vrydag beslag gelê op perlemoen van meer as R7,5 miljoen wat in ’n verlate huis in die noordelike voorstede gevind is.

Terselfdertyd is daar ook perlemoen van sowat R4 miljoen naby Worcester gevind.

Durbanville

Die geïntegreerde span, bestaande uit die Valke en asook die polisie se honde-eenheid, het op ’n wenk reageer wat hulle na ’n huis in Sonstraal, Durbanville, geneem het.

“Daar was niemand in die huis gewees nie, maar daar was opvallende tekens dat die buit net so agtergelaat is,” het die polisie se woordvoerder, kapt. Lloyd Ramovha, bekend gemaak.

"Beslag is gelê op meer as 23 000 eenhede perlemoen, wat ook gedroogde perlemoen insluit.”

In totaal is daar die afgelope week op meer as 52 000 eenhede perlemoen beslag gelê. Die waarde daarvan word op sowat R12 miljoen geskat.

Twaalf mense is reeds in hegtenis geneem. Die ondersoek duur voort en meer arrestasies word verwag. Worcester Meer as 8 000 eenhede van dié gesogte skulpvis is Vrydagaand in ’n voertuig op die N1 naby Worcester in die Wes-Kaap gevind. Die Blue Eagles provinsiale verkeerspan het kort voor middernag ’n ligte afleweringsvoertuig gestop. Die bestuurder het van die toneel gevlug voor die polisie opgedaag het. Hulle het 8 632 eenhede perlemoen met ’n straatwaarde R4.3 miljoen gevind.

Perlemoen is een van die wêreld se waardevolste skulpvis. Daar is 56 verskilende soorte perlemoen wêreldwyd waarvan vyf in Suid-Afrika aangetref word. Die Haliotis midae word glo as die smaaklikste van almal beskou.

Maar dit is nie hoekom hierdie skulpvis se voortbestaan onder erge bedreiging staan nie.

Daar is natuurlik die oënskynlik-onkeerbare sluikhandel waar perlemoen in veral China en Asië opeindig vanweë die spesie se beweerde seksuele hupstootjie . . .

Twee van die beweerde hoofrolspelers in die sluikhandel van perlemoen is in November 2016 naby Beaufort-Wes vasgetrek. Akthar Naeem Cassim en Ernest Chen is gevang met ’n vragmotor waarmee hulle twee ton gedroogde perlemoen vervoer het.

Op 20 Januarie vanjaar is daar vier smokkelaars skuldig bevind vir die verskeping van perlemoen ter waarde van R19,5 miljoen na Hong Kong.

Rapporteer perlemoenstropery aan die naaste mariene bewaringsbeampte, die polisie of natuurbewaringsbeampte. Jy kan ook 0800-11-12-13 (tolvry) bel.