'n Troue van R4,5 miljoen is in die wiele gery toe die bruid en bruidegom se families mekaar die aand voor die troue begin moker het. En nou dreig daar boonop ’n hofgeding!  

Amy Bzura en Brad Moss sou in Oktober verlede jaar tydens ’n swierige geleentheid in New York afhaak, maar dinge het die aand voor die troue skeefgeloop, glo omdat Amy onder meer gesê het Brad moet kies tussen haar en sy ma.

Die New York Post berig die moeilikheid het alles begin toe die bruid se broer die aand voor die troue ’n toespraak wou maak en die bruidegom se ouers aanstoot geneem het. Die spanning tussen die twee gesinne het daarna net meer en meer geraak, tot die vuiste eindelik geklap het toe Brad se broer en Amy se broer mekaar takel.  

Die aand het in "gille en trane" geëindig, met die groot bruilof wat summier afgestel is. Brad het toe ’n paar weke later boonop vir Amy  hof toe gesleep om die peperduur verloofring van $125 000, oftewel R1,6 miljoen, terug te kry.

Sy pa het ook gedreig om hom uit die familie se sakeonderneming te skop as Brad enigsins sy voorgenome huwelik met Amy voortsit. Die Moss-familie het selfs die slotte van hul duur Manhattan-woonstel laat verander sodat Amy nie meer toegang kon kry nie.

Op hul beurt eis Amy se ouers nou weer van Brad se familie om die koste van die troue op te dok.

In hofstukke wat in Februarie ingedien is, sê Amy se ouers onder meer dat hulle vergoed moet word vir die geleentheid wat nooit plaasgevind het nie en dat Brad se gesin vooraf ingestem het om ’n deel van die rekening te betaal, maar nog nie het nie.

"Hy het beloof om sy deel te betaal en nou wil hy nie ’n sent opdok nie," het hulle glo gesê.

Een ding is seker: trou is beslis nie perde koop nie.