’n Menseketting Donderdag buite die parlement gaan die eerste van verskeie beplande protesoptogte teen pres. Jacob Zuma wees.

Kapenaars beoog om ’n menseketting na die St. George-katedraal te vorm – die eerste van talle protesoptogte wat oor die volgende paar dae beplan word om die president sover te kry om te bedank en te verhoed dat sy optrede die land se ekonomie nog skade berokken.

Dit volg ná die kabinetskommeling verlede week, wat veroorsaak het dat die rand verswak teenoor die Amerikaanse dollar. Dit het ook gelei tot Suid-Afrika se kredietafgradering.

Die betoging begin na verwagting om 12:00 langs ’n roete in Plein- en Spinstraat en sal dan opbeweeg in Adderley- en Walestraat na die katedraal.

Om 14:00 gaan Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, na verwagting een van die sprekers wees by die gedenkdiens in die katedraal vir Ahmed Kathrada, die ANC-veteraan wat verlede week oorlede is.

Later Donderdag gaan ’n tentkamp, “Vukani (Wake up) Mzansi 2”, na verwagting op die sypaadjie tussen die Slave Lodge-museum en die katedraal opgerig word. Dit sal dien as ’n sentrale punt vir ’n reeks betogings wat na verwagting tot Saterdagoggend gaan duur.

Yonela Diko, ANC-woordvoerder in die Wes-Kaap, sê partylede sal burgers se reg om te betoog respekteer en sal nie teenbetogings ter ondersteuning van Zuma hou nie.

Bron: News24