Groot kettingwinkels in die land sal vandag, Vrydag 7 April oop wees ten spyte van die protesaksie wat van stapel gestuur is in reaksie oor die jongste kabinetskommelinge deur Jacob Zuma.

Old Mutual het aangedui hoewel hul werknemers kan gaan werk, hoef hulle nie op kantoor te wees nie.

Die protesoptogte word gehou in protes teen Jacob Zuma se kabinetskommeling verlede Vrydagoggend, kort na middernag. In hierdie omstrede stap is verskeie bekwame ministers en adjunkministers hul poste kwyt om plek te maak vir nuwe aanstellings van mense wat Zuma goedgesind is. Dit was veral die afdanking van Pravin Gordhan, minister van finansies, wat skokgolwe deur die land gestuur het.

Kort daarna het die Rand begin verswak en die graderingsagentskap, Standard & Poor’s (S&P), het Suid-Afrika afgradeer na rommelstatus.

Tydens vandag se optogte gaan protesgangers, onder die hutsmerk #ZumaMustFall, vra dat daar van Zuma ontslae geraak moet word voordat hy die land nog meer skade berokken.

Dit is nie net al die opposisiepartye wat hierdie aksies steun nie, maar ook ander groeperings soos onder andere die Forum 4 Service Delivery, Outa, verskeie kerkgroepe, die Kathrada-stigting, Corruption Watch, Laywers for Human Rights en die vakverbond Fedusa.

Janine Myburgh, president van die Kaapse Kamer van Koophandel en Nywerheid, sê nagenoeg 62% van Kaapse ondernemings het aangedui hulle is ten gunste daarvan om Vrydag toe te wees as deel van die protesaksie teen die afdanking van die Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies.

“Uit kommentaar van ons lede is dit duidelik die persentasie sou hoër wees, maar die baie openbare vakansiedae in April speel ’n rol daarin.”

– Jaco Hough-Coetzee en Jana Smit