’n Pensioentrekker van Bloemfontein wat 11 honde, twee katte, 10 budgies en twee konyne in haar eenslaapkamerhuis ingeprop en verwaarloos het, is onlangs ’n jaar opgeskorte tronkstraf opgelê, berig Volksblad.

Die Dierebeskermingsvereniging het in November verlede jaar Petra Paulsen (71) se huis deursoek en afgekom op onder meer twee honde in ’n wasmasjien, een in die messegoedlaai van ’n staalkas en ’n budgie tussen komberse in ’n hangkas. Wurms in een van die hondjie se ontlasting het al in die wasmasjien aan hom begin vreet.

Al die diere is verwaarloos, sonder kos en water aangehou, en is toegesluit in die pikdonker huis agter toe deure en vensters.

Bloemfontein se landdroshof het beslis Paulsen mag vir vyf jaar geen diere aanhou nie. Weens haar oortreding moet sy op 23 Junie om hulp aanmeld by die Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en Herintegrasie van Oortreders.

Volksblad berig sielkundige verslae wys Paulsen ly aan ’n steuring genaamd diereopgaring (“animal hoarding”), wat ook in Suid-Afrika deur die Nasionale Dierebeskermingsvereniging (NDBV) erken word. Die NDBV sê “geen omvattende sielkundige ondersoek” is al oor dié steuring gedoen nie.

“Enigiemand wat diere opgaar wat hulle nie ordentlik kan sorg nie, is ’n diereopgaarder,” verduidelik die NDBV op hul webtuiste, nspca.co.za.

“Dié opgaarders ontken gewoonlik dat die diere wat hulle aanhou, afgeskeep word. In die buiteland word diereopgaarders ook diereverslaafdes genoem.”

Volgens ’n artikel in die Engelse vaktydskrif Mental Health Practice is die meeste mense wat aan diereopgaringsteuring ly, middeljarig of bejaard. Drie uit vier is vroue wat alleen woon en wat, in was sommige gevalle, ’n trauma soos ’n verbrokkelde verhouding of gesondheidsprobleem probeer verwerk.

Dié diereopgaarders is gewoonlik behep daarmee om ál meer diere te kry en glo gewoonlik dat hulle ’n spesiale band met die diere het, hulle die diere beter as enigiemand anders verstaan, en hulle die diere van genadedood red. Wanneer die diere weens verwaarlosing siek word, ontken hul eienaars gewoonlik die siekte én die haglike omstandighede waarin hulle die diere aanhou.

Die NDBV vra enigiemand moet hulle nader sodra hulle vermoed iemand ly aan diereopgaringsteuring.

“Dit is in die diere se beste belang om sulke sake dadelik aan te meld.”

– Christiaan Boonzaier.

Lees meer op Volksblad se webtuiste.