In ’n onlangse peiling het driekwart van die 2 000 deelnemers aangedui hul gebruik hul selfoon op die toilet.

Die peiling is deur Sony en die Britse selfoondiensverskaffer O2 onderneem.

Amper drie uit vyf (59 persent) van mans en vroue sê hulle stuur SMS’e terwyl hulle sake doen en amper ’n derde het al ’n oproep op die toilet beantwoord.

’n Kwart van die mans erken hulle sit pleks van staan sodat hulle vrylik hul foon kan gebruik.

O2 se David Johnson verduidelik: “Ons Britte het ’n nasie geword wat terselfdertyd verskeie take kan verrig waar slimfone betrokke is. Ons gooi ’n oog oor Twitter terwyl ons TV kyk, ons bly in aanraking met die kantoor terwyl ons tussen vergaderings op straat stap en ons lees nuus terwyl ons koffie drink.”

“Daarom verbaas dit nie dat van ons gebruikers elke oomblik wat hul hande nie ’n ander taak verrig nie, gebruik om in aanraking te bly.”