paulwalker5

Paul Walker se suster, Ashlie, het teruggekap ná gerugte dat hy aan ’n versnelren deelgeneem het toe hy Saterdag in ’n tragiese motorongeluk dood is.

Die ster van Fast and the Furious en sy vriend Roger Rodas is dood toe die Porsche waarin hulle gereis het teen ’n lamppaal gebots het in Santa Clarita, Kalifornië, maar sy suster ontken dat hulle tydens die ongeluk met ’n ander bestuurder gejaag het. “Daar was nie ’n versnelren nie; dis ’n volslae leuen,” het Ashlie Walker (37) aan MailOnline gesê.

“Dit maak seer wanneer ons hierdie leuens hoor. Dit vererger net ons hartseer. Dis onverantwoordelike bewerings en mense beweer spoed en reisiesjaery is die rede vir sy dood, terwyl dit net ’n aaklige ongeluk was.”

Die gebied waar Paul en Roger, wat bestuur het, se ongeluk gebeur het, is bekend as ’n gewilde plek vir versnelrenne en ’n woordvoerder van die Los Angeles-polisie het gesê die owerheid het Sondag ’n oproep gekry wat daarop dui dat nog ’n motor betrokke was toe die 2005 Porsche Carrera GT by die ongeluk betrokke was.

Ondersoekbeamptes van Santa Clarita se polisie het intussen die moontlike betrokkenheid van ’n tweede voertuig uitgeskakel, maar dit lyk of Paul en Roger die spoedperk van 72 km/h uur oorskry het. “Die ondersoek is nog in ’n vroeë stadium, maar ondersoekbeamptes glo die Porsche het teen meer as 160 km/h uur gery.”