paulwalker7

Paul Walker se pa het onthul hy het sy seun in hul laaste gesprek voor sy dood laat belowe hy sou die “jaagduiwelgoed” laat staan.

Paul Walker sr. erken hy was besorg oor sy 40-jarige seun se waaghalsige aktiwiteite. Hy het die Fast and the Furious-akteur gesmeek om versigtig te wees. Paul is Saterdag dood toe die Porsche waarin hy gery het teen ’n paal gebots het ná ’n motorskou vir liefdadigheid in Santa Clarita, Kalifornië.

In ’n emosionele onderhoud met E! News het hy gesê: “Tydens die laaste gesprek wat ons gehad het, het ek daar gesit, na hom gekyk en gesê: ‘Jy weet ek is baie lief vir jou. Ek is lief vir julle almal. En ons is almal baie geheg aan mekaar. As enigiets met iemand in hierdie gesin moet gebeur, sal dit baie moeilik wees.”

“Ek het gesê: Belowe my, geen meer jaagduiwelgoed nie. Ek het gesê: As jy in jou hart kan sê ek kan dit doen, doen dit dan gerus. As jou kop vir jou sê dalk nie, moet dan nie. Ek het na hom gekyk en gevra: Sal jy my dit belowe?

“Ek het gesê: Jy weet beloftes is hier ’n baie groot ding, Paul. Ek het gesê: Sê oukei, en hy het gesê: ‘Oukei.’ Jy weet baie van ons doen soms beloftes en word deur die oomblik meegevoer en so aan, maar ek weet ek het tot hom deurgedring. Ek weet hy was baie ernstig. Soms dink seuns aan hul pa en oupa as hierdie groter-as-lewensgroot mense.”

Paul se pa het erken hy kon hom net sover kry om vir die oorlede ster se 15-jarige dogter, Meadow, “’n druk en ’n soen” te gee, pleks van ’n behoorlike gesprek oor haar pa se dood te voer, maar hy berei hom voor op ’n “baie moeilike tyd” wanneer hy met die tiener moet praat.

Hy het bygevoeg: “Sy is so oulik en mooi . . . Dit gaan vir my baie moeilik wees om met Meadow te praat. Dit gaan ’n moeilike saak wees. ’n Baie moeilike saak.

“Dis moeilik om by Meadow uit te kom, want sy het soveel mense na aan haar wat vir haar lief is en ons wil dit so hê.”

Paul sr. het ook erken sy seun sou “verleë” gewees het oor al die aandag wat hy ná sy dood kry, want roem het hom ongemaklik gemaak.