Paul Walker se meisie, Jasmine Pilchard-Gosnell (23), is glo “verpletter” ná sy skielike dood.

[caption id="attachment_60893" align="aligncenter" width="300"]Paul Walker Paul Walker[/caption]

Die 40-jarige akteur, wat Saterdag dood is in ’n motorongeluk ná ’n liefdadigheidsgeleentheid in Santa Clarita, Kalifornië, en Jasmine, wat in Santa Barbara woon, was sewe jaar saam. Haar ma, Julie, troos haar terwyl sy sukkel om die “aaklige” ongeluk te verwerk.

Jasmine se oom, Barton Bruner, het aan MailOnline gesê: “Paul was ’n goeie ou en Jasmine is verpletter. Ek was op Thanksgiving saam met hom; ons het saam gholf gespeel. Die twee het goeie en slegte tye beleef, maar hulle was saam en het uitgesien na ’n blink toekoms. Dis aaklige nuus en so onverwags. Haar ma is by haar en troos haar.”

Die twee het mekaar glo ontmoet toe Jasmine 16 en die ster van Fast & Furious 33 was.

Dit het intussen uitgekom dat ’n huldeblyk deur Paul se dogter, Meadow Rain (15), wat die ongeluk sien gebeur het, glo vervals is. ’n Bron het aan TMZ.com gesê ’n bedrieër het Sondag ’n foto van hulle op Facebook geplaas met die woorde: “Toe ek klein was, het hy my leer stap, leer glimlag en geleer om nooit moed op te gee nie.

“Ek was lief vir hom nog voor ek geweet het wat liefde is. Hy was my held. My regte egte held. Hy sal altyd in my hart wees. Ek het trane in my oë terwyl ek dit skryf. Jy is weg, maar ons sal jou nooit vergeet nie. Rus in vrede, Pa.”

Paul het ’n kortstondige verhouding gehad met Meadow se ma, Rebecca McBrain, en die tiener het onlangs by hom ingetrek nadat sy haar kinderjare in Hawaii deurgebring het.

’n Groot aantal bekendes, onder wie Olivia Wilde, Jessica Alba, Liam Neeson en Rihanna,  het hul simpatie aan Paul se familie via Twitter betuig.