Cheryl Walker het versoek dat die oorlede Fast and Furious-ster se dogter onder haar toesig geplaas word, want sy meen die tiener se ma, Rebecca Soteros, is ’n alkoholis.

Meadow het drie jaar voor haar beroemde pa se dood voltyds by hom in Kalifornië gaan bly. Sy het voorheen in Hawaii gebly by haar ma, wat in 2003 en 2013 vir dronkbestuur in hegtenis geneem is.

Cheryl beweer in die regsdokumente wat TMZ bekom het dat Meadow en Rebecca nou albei by haar bly, maar sy voel nie Rebecca is geskik om vir die jong meisie ’n ma te wees nie.

Meadow is in Paul se testament as sy enigste erfgenaam aangewys en sal sy hele fortuin erf, wat na berigte R275 miljoen werd is.

Die ster het ook sy pa, Paul Walker sr., as die eksekuteur aangestel en gesê Cheryl moet Meadow se wettige voog word.

Voorheen is beweer Rebecca is tevrede dat Meadow ná Paul se dood by Cheryl, ’n verpleegster, bly, want die kind wou in Kalifornië bly.

Die akteur en sy vriend Roger Rodas is op 30 November in Santa Clarita, Kalifornië, dood toe Roger beheer verloor het oor die motor waarin hulle gery het.