paulwalker

Paul Walker se laaste woorde voor sy dood was: “Kom ons gaan ry.”

Die 40-jarige akteur is Saterdag dood toe die Porsche Carrera GT waarin hy ’n passasier was, in ’n boom vasgery en aan die brand geslaan het. Hy en sy vriend wat die sportmotor bestuur het, Roger Rodas, het by ’n liefdadigheidsgeleentheid besluit om ’n entjie te gaan ry.

Roger was besig om die voertuig binne-in die motorhuis van die eksklusiewe motorhandelaar Always Evolving te parkeer toe Paul daar opdaag. Die geldinsameling is gehou by die onderneming, waarin Paul ’n aandeel het. Roger het die motor parkeer omdat ’n werknemer gesukkel het om dit agteruit in die motorhuis te stoot.

Toe Roger agter die stuurwiel inklim, het die ster van The Fast and the Furious hom gevra of hulle met die Porsche kan gaan ry. Hy het gesê hy het nog nie daarin gery nie.

Paul se vriend Jim Torp het vertel: “Roger was besig om dit agteruit in die motorhuis te stoot, en Paul het ingespring en gesê: ‘Haai, kom ons gaan ry.’

“Hulle het toe ’n entjie gaan ry en dis wat gebeur het.”

Die Porsche was na die ongeluk ’n opgefrommelde wrak. Paul laat ’n 15-jarige dogter, Meadow, na.