Paul Walker se 15-jarige dogter gaan sy fortuin van R278 miljoen erf, en hy het in sy testament gesê hy wil hê sy ma moet haar wettige voog wees.

Die 40-jarige akteur en sy vriend Roger Rodas het op 30 November in Santa Clarita verongeluk toe Roger beheer verloor oor die motor waarin hulle gery het. Paul het sy 15-jarige dogter, Meadow Rain Walker, as die enigste begunstigde van sy boedel aangewys.

Die ster van The Fast and the Furious het sy pa, Paul Walker sr., as die beredderaar van sy boedel aangewys, volgens die skinderwebtuiste TMZ.com.

Hy het ook gevra die hof moet die oorlede akteur se ma, Cheryl Walker, as Meadow se wettige voog en bewaarder van die tiener se fortuin van R278 miljoen aanwys, soos wat sy seun in sy testament versoek het.

Meadow woon nou by haar ma, Rebecca Soteros, maar het kort voor sy tragiese dood by haar beroemde pa gaan woon.

Die saak sal later dié maand aangehoor word.

’n Bron het voorheen gesê Paul wou ophou toneelspeel om meer tyd saam met Meadow deur te bring en was in die wolke dat sy by hom ingetrek het.

Die bron het gesê: “Hy was blyer as wat jy jou kan indink dat sy voltyds by hom gewoon het. Sy was die liefde van sy lewe. Hy was ’n wonderlike pa en baie ingenome dat sy gekies het om by hom te woon, want hy het nooit gedink hy het genoeg tyd saam met haar gekry nie.”