Meadow, dogter van die akteur Paul Walker, het ’n klag van onregmatige sterfte aanhangig gemaak teen die motorvervaardiger Porsche.

Die 40-jarige akteur van Fast and the Furious-faam het op 30 November 2013 saam met sy vriend, Roger Rodas, ’n vlammedood gesterf. Die twee mans het in Roger se 2005 Porsche Carrera GT gery toe die motor ’n lamppaal tref en in vlamme uitbars.

Volgens Radar Online het Paul se enigste dogter, die 16-jarige Meadow, op 18 September ’n hofsaak aanhangig gemaak waarin sy beweer die voertuig waarin haar pa dood is, was “foutief”.

Prokureurs het in die klagstaat beweer “toe die motor tydens die botsing uitmekaarbreek, het die ankers van die skouergordels saam met die agterste gedeelte van die enjinruim getrek, terwyl die ankers van die sitplekgordel in die passasiersruim agtergebly het”.

“Dit het Walker se bolyf met die krag van duisende kilogram teruggeruk en sodoende is sy ribbes en bekken gebreek, sy sitplek is platgeslaan en hy is op die naat van sy rug gelaat, waar hy lewend gebly het tot die voertuig een minuut en twintig sekondes later in vlamme uitgebars het,” lui die dokument. “Die brand is deur nog ’n defek veroorsaak: rubberbrandstofpype sonder losruk-passtukke wat die brandstofvloei outomaties afsluit. As die Porsche Carrera GT nie hierdie gebreke gehad het nie, sou Paul Walker vandag nog gelewe het.”

Meadow se prokureurs beweer die hofsaak is aanhangig gemaak omdat sy ontsteld is deur die beeld van haar pa wat in die laaste oomblikke van sy lewe doodgebrand het.

“Die klaagster is ingelig en gegrond daarop voer sy aan Walker het die krag van die botsing oorleef en het nog gelewe toe die Porsche Carrera GT in vlamme uitgebars het,” lui die hofdokumente. “Die klaagster is ingelig en sy glo dat die sitplekgordel aangehou het om krag uit te oefen oor Walker se liggaam nadat die Porsche Carrera GT tot stilstand gekom het en dat dit veroorsaak het dat sy asemhaling vervlak het en dat dit enige poging tot ontsnapping of redding verhinder het. Walker was een minuut en twintig sekondes in die voertuig vasgekeer voor die voertuig in vlamme uitgebars het.

“Walker het roet in sy hooflugpyp ingeasem terwyl die Porsche Carrera GT gebrand het.”

Meadow wil nie hê die hoëprofiel-hofgeding moet die kollig op haar privaat lewe plaas nie.

“Meadow Walker was baie huiwerig om die hofgeding namens haarself, en ook as erfgenaam van Paul Walker se boedel, te magtig,” het haar prokureur in ’n verklaring gesê. “Sy is ’n tienermeisie wat nog besig is om die tragiese verlies van haar pa te verwerk. Sy heg waarde aan haar privaatheid en sal geen kommentaar lewer nie. Ons vra almal om dit te respekteer. Alles wat ons nog te sê het, is in die hofdokumente vervat. Paul Walker en sy vriend Roger Rodas moes nog by ons gewees het.”

Meadow eis ’n onbekende bedrag aan skadevergoeding namens haar pa, Paul, se boedel.

© Cover Media