Die optredes vind op 29 Oktober by Carnival City, Brakpan, en op 30 Oktober in die Arena in die GrandWest-casino in Kaapstad plaas.

Vanjaar kan aanhangers uitsien na ’n dubbeldosis-gehoorplesier met ’n optrede deur die Italiaanse sanger Patrizio Buanne en die Belgiese sanger Dana Winner saam op een verhoog in Suid-Afrika.

As ’n bonus is daar ook twee gaskunstenaars wat Suid-Afrikaners na aan die hart lê: Nianell en Corlea.

Patrizio het onlangs gehore se asem weggeslaan met ’n indrukwekkende optrede by Skouspel 2011 in Sun City.

Hy het die gehore nie net met sy Afrikaanse liedjies verras nie, maar ook lekker vriende gemaak met Suid-Afrikaanse sterre soos Kurt Darren, Nicholis Louw, Heinz Winckler en Coenie de Villliers.

Sy komende optredes aan die einde van Oktober val saam met die uitreiking van ’n nuwe Patrizio-CD wat eksklusief vir Suid-Afrikaanse gehore opgeneem is en verskeie liedjies in Afrikaans bevat.

Dana Winner, wat die verhoog met hom gaan deel, is al lank ’n guns­teling onder Suid-Afrikaners ná die Afrikaanse opnames wat sy hier gemaak het. Vanjaar beplan sy en Patrizio ’n ekstra verrassing: ’n splinternuwe duet genaamd Life is Beautiful.

Die konsertliedjies sal in Afrikaans, Engels en Italiaans wees. Kaartjies beskikbaar by Computicket.

Volg Huisgenoot op Twitter.