SOMMIGE rugby-oomblikke is eenvoudig onvergeetlik: Joel Stransky se skepskop wat ons die 1995-Wêreldbekerkampioene gemaak het; Derick Hougaard wat in 2002 met 26 punte vir die Bulle in die Curriebeker-eindstryd die Liefling van Loftus geword het...

En nou is daar ook Patrick Lambie se man-van-die-wedstryd-vertoning in die 2010-Curriebeker-eindstryd.

Daar was 15 Springbok-spelers op die veld toe die WP en die Sharks mekaar in die eindstryd aangedurf het, maar dit was Patrick – net 20 jaar oud – wat die veld vir hom toegeëien het.

Maar weg van die rugbyveld is daar steeds iets aan hom wat herinner aan ’n onbeholpe tiener. Hy staar skamerig na die grond terwyl ’n spul joernaliste hom met vrae peper. Maar gee hom ’n rugbybal en hy toon vernuf en durf wat talle ouer spelers hom kan beny.

‘‘My pa het my altyd aangemoedig om net die wedstryd te geniet,’’ vertel hy. “As jy pret het, speel jy op jou beste. Almal is deesdae vinniger, groter en sterker, maar dit geld steeds. Ek besef eers ná die wedstryd ek moes eintlik bang of geïntimideer gevoel het.’’

Op die 20ste herdenking van Natal se eerste Curriebeker-trofee het die Sharks met ’n nuwe generasie talent die WP en hul rugbysterre genadeloos platgeloop om weer die gesogte beker te vat. En dit was keer op keer Patrick wat die aanvalle van stapel gestuur het. Soos gebeur het met daardie drie wat die WP vroeg in die wedstryd al soos ’n vuishou getref het, en Patrick se eerste.

Hy is verby Willem de Waal, deur twee duikvatte, en toe hy die Wêreldbeker-wenner en WP-kaptein, Schalk Burger, afstamp op pad doellyn toe, was dit duidelik: Patrick Lambie laat hom nie stuit nie. Dis mos hoe legendes gebore word. En hoe 20-jariges dan gekies word vir die Bok-toer deur Europa.

Maar vra hom agterna daaroor en hy antwoord amper skoorvoetend: ‘‘Daar was niks aan die gebeur nie, niemand om die bal voor aan te gee nie, en toe druk ek die bal onder my arm en begin hardloop . . .’’

Lees die volledige artikel in die Huisgenoot van 11 November 2010.