Die patoloog dr. Arnold Mamashila het Woensdag in die hooggeregshof in Limpopo ontstellende getuienis gelewer rondom die moord op Fatima Patel. Hy het getuig die verwurging, koeëlwond en beserings aan haar gesig kon tot haar dood lei. Arnold het voorts getuig hy kon geen verdedigingswonde vind wat daarop sou dui dat sy met haar aanvaller geworstel het nie. Die eerste polisieman op die moordtoneel is glo weens die een of ander rusie na die kompleks ontbied. Hy het bloed in die kombuis en badkamer gevind. Hy het ook getuig Fatima se man, Rameez, het geen emosie getoon toe hy hom na die lyk neem nie. Hy het Rameez as “kalm” beskryf. Die polisieman het ook sy verbasing uitgespreek dat iemand die huis sou binnekom, iemand sou vermoor en niks steel nie.

Die saak gaan Donderdag voort.

Vroeër vandag

[caption id="attachment_141640" align="aligncenter" width="600"]Foto: Facebook. Foto: Facebook.[/caption]

Rameez Patel, ’n sakeman van Polokwane, het Dinsdag weer verskyn in die hooggeregshof in Limpopo, waar hy teregstaan vir die moord op sy pragtige vrou, Fatima. Rameez se broer, Razeen, was Dinsdag weer in die getuiebank. Hy het getuig Rameez het aan geen karatebedrywighede deelgeneem nie; hy was wel by hokgevegte betrokke.

Razeen het ook getuig op die dag van Fatima se dood was haar handsak spoorloos. Hy het gesê sover hy weet, is sy broer nie in ’n romantiese verhouding betrokke nie. Razeen het ook getuig op die dag van sy skoonsuster se dood was die kompleks se elektriese omheining buite werking. 

Dr. Abdul Ahmed, eienaar van die woning, het ook in die getuiebank verskyn. Hy het ontken dat daar ten tyde van die moord op Fatima se moord enigsins probleme met die elektriese omheining was. Hy het gesê sou probleme opduik met die omheining, word ’n alarmstelsel geaktiveer.

Abdul het die woning se sleutels ses maande ná die tragedie van Razeem teruggekry.

Sayed Kader, wat die geslotekringtelevisie-beeldmateriaal op die noodlottige dag afgelaai het, sê dit toon drie voertuie het die kompleks op daardie dag binnegegaan.

Nyeleti Hughes, Fatima se persoonlike afrigter, was ook Dinsdag ’n getuie. Sy het gesê Fatima het haar in haar vertroue geneem en volgens haar het Fatima soms emosioneel geraak en gehuil.

Die saak gaan Woensdag 19 Oktober 2016 voort.

Wat vroeër gebeur het

Fatima Patel (29) is op 10 April 2015 dood nadat sy in die egpaar se gehuurde woning in Nirvana, Polokwane, wreed aangerand en geskiet is. ’n Stomp voorwerp is in die aanval op haar gebruik.  Ses dae later is haar man, Rameez Patel (28), in hegtenis geneem vir die moord. Hy het ten sterkste skuld ontken en gesê daar is by hul woning ingebreek. Die egpaar het drie kinders. Ten tyde van die aanval was die jongste vier maande oud.

Fatima se familie het geglo die twee is gelukkig getroud, maar toe word haar vernielde liggaam in ’n bloedplas gevind. Fatima se pa, Farook Choonara van Laudium, het vermoed alles is nie pluis nie. Sy dogter sou hom ná Paasnaweek op ’n Woensdag besoek, maar sy is vermoor voor dit kon gebeur. Haar skedel en wangbene was versplinter en haar kakebeen was ontwrig. Rameez het volgehou ’n inbraak het tot sy vrou se grusame dood gelei.

Die polisie het egter geen teken van gedwonge toegang gevind nie. Rameez het luidens berigte by sy oom se huis gaan bad en drie keer ander klere aangetrek. Hy het ook geweier om van die klere wat hy aangehad het aan die polisie te oorhandig.

Volgens ’n onderhoud met City Press het ’n vriend wat verkies het om anoniem te bly, gesê Rameez sou Fatima nooit vermoor nie. “Rusies tussen paartjies is normaal, maar Fatima was erg aangerand, asof ’n dier dit gedoen het. Dit kan nie Rameez wees nie.” Op 24 Julie 2015 is bekendgemaak Fatima se lyk gaan vir verdere ondersoek opgegrawe word.

Bronne: news24.com, citypress.co.za