Of jy nou in Kersvader glo of nie, min dinge kan ’n kind so ogies so bly laat blink soos ’n kuiertjie by die man in sy rooi pak en met die welige wit baard.

Maar David Grisham, lid van die Repent Amarillo en evangelis vir die Last Frontier in Texas, wil niks daarvan weet nie.

Terwyl talle ouers en hul kleingoed in afwagting nader staan vir hul ontmoeting met die Westgate Mall-inkopiesentrum in Arlington se Kersvader, begin David bulderend met sy lang relaas oor die bestaan van Kersvader.

Terselfdertyd maak hy ’n video van homself.

“Ek wil julle vandag vertel daar bestaan nie so iets soos Kersvader nie,” snou hy die groep toe.

“Die Kerstyd gaan net oor Jesus. Hy is op ’n dorp genaamd Bethlehem in ’n stal gebore. En dis die waarheid oor Kersfees.”

Hy tier voort: “Kersvader bestaan nie. Ouers, julle moet almal ophou om vir jul kinders te lieg.”

Van die ouers vra hom om liefs te loop, maar hy stoom voort. Eers toe twee van hulle na David loop om hom te konfronteer, blaas hy die aftog.

David neem nie in ag ouers kan besluit wanneer hulle hul kinders die waarheid oor die man in die rooi pak wil vertel nie.

Dis glo nie die laaste sien van die blikkantien nie. David het onderneem om met dieselfde feestyd-ontwrigting voort te gaan ten bate van sy seepkispredikasies.

Terloops, ’n paar jaar gelede het David die wapen teen ’n Kersvader-replika opgeneem en hom “deur ’n vuurpeleton tereggestel”. Kyk die video hier:

Wie is David Grisham?

In ’n wêreld waar verdraagsaamheid aangemoedig behoort te word, het dié militante en homofobiese prediker die afgelope paar jaar verskeie radikale en aanvegbare stellings gemaak.

Hy en sy groep teiken spesifieke plaaslike gebiede om “duiwels” uit te dryf. Feitlik alle gelowe, buiten dié van sy kerk, word nie as Christelik aanvaar nie.

David het selfs in 2010 in ’n openbare park in Amarillo die Koran probeer verbrand. ’n Skaatsplankryer het blitsvinnig ’n stokkie voor sy “brandende begeerte” gesteek.

Jacob Isom (23) het hom van agter bekruip, die Koran gegryp en aan die verstomde David gesê: “Ou, jy het nie ’n Koran om te brand nie!”

Die groep word ook deur sommige vergelyk met die omstrede Westboro Baptist-kerk, wat bekend is vir haatspraak.

Bronne: washingtontimes.com, newschannel10.com, towleroad.com, dailymail.co.uk