Kinders is gewoonlik baie gek oor pasta. Gebruik dit as basis waarby jy groente inmeng om ’n gebalanseerde ete te maak.

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 15-20 minute

Genoeg vir 4-6 porsies

250 g pasta van jou keuse

50 g botter

50 ml meel

250 ml (1 k) laevetmelk

sout en vars gemaalde swartpeper

2 kaaswiggies (opsioneel)

1 eier, geklits

100 g ertjies

50 g spinasie, gesnipper

100 g kaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 180 °C. Kook die pasta tot al dente, dreineer en hou eenkant. Verhit die botter in ’n kastrol en roer die meel by tot die mengsel dik is. Giet die melk by en roer met ’n houtlepel of klitser. Verlaag die hitte en roer tot die sous verdik. Geur met sout en peper. Laat die witsous effens afkoel en roer die kaaswiggies en eier by die witsous in. Roer die ertjies en spinasie by die witsous in en meng dit met die pasta. Skep die mengsel in klein bakkies en sprinkel die gerasperde kaas oor. Bak sowat 10-15 minute of tot goudbruin.

Wennerwenk: Roer 125 g gaar spek of worsies by die witsous vir ’n variasie.