Die man het Maandag van die Sun Princess geval, sowat 280 km oos van Sydney, het ’n woordvoerder vir die Australian Maritime Safety Authority, Mal Larsen, Dinsdag gesê.

Die passasierskip, wat deur Princess Cruises bedryf word, het in die gebied gebly pleks van voortvaar na Sydney, waar dit Dinsdag moes aangekom, het Mal gesê. ’n Vliegtuig voer ’n soektog uit, het hy gesê.

Princess Cruises het gesê die passasier is eers vroeg Dinsdag as vermis aangemeld.

“ ’n Deeglike soektog van Sun Princess is uitgevoer, maar die passasier is nie opgespoor nie,” het Princess Cruises in ’n verklaring gesê.

Die Australiese Seeveiligheidsowerheid is genader en Sun Princess het omgedraai en sy pad langs die kus van Nieu-Suid-Wallis teruggevolg, het die maatskappy gesê.

Mal het gesê veiligheidskameras het die tyd bevestig dat die passasier oorboord geval het.

Die Sun Princess moes Dinsdag ná ’n vaart van 13 dae na Nieu-Seeland in Sydney aankom.

Die maatskappy het gesê die skip sou die soektog voortsit tot dié aan die hoof van die soektog hulle vrystel. Die Sun Princess se volgende vaart is geraak en die maatskappy laat mense weet van die roosterverandering.

Soekers is baie bekommerd oor die passasier se veiligheid weens hoë deinings van tot 3 m en wind wat 29 km/h kan bereik, het Mal gesê.

Mal was nie bewus van die omstandighede rondom die voorval nie, en weet ook nie wat die man se nasionaliteit is nie.

Die Sun Princess bied ritte langs die Australiese kus en suidelike Stille Oseaan aan.