Chaos het op 'n Amerikaanse vlug losgebars toe 'n 54-jarige man gesê het dat hy Ebola onder lede het.

’n Passasier het op ’n vlug onderweg na die Dominikaanse Republiek grappenderwys gesê hy het Ebola; dit het vrees by die ander passasiers ingeboesem en hy is deur mense in beskermende pakke van die vlug weggelei, het mediaberigte gesê. Die 54-jarige man het Woensdag op die US Airways-vlug onderweg van Philadelphia na Punta Cana gesê hy het die hemorragiese koors onder lede. “Ek het net gegrap,” het hy gesê in ’n video wat op sosiale media gedeel is. Plaaslike gesondheidsbeamptes in beskermende pakke en asemhalingsapparaat het hom toe weggelei. Pleks van ’n twee weke lange vakansie in die Dominikaanse Republiek is die man Donderdag terug Amerika toe gestuur, het ’n lughawebeampte aan ’n plaaslike koerant, Diario Libre, gesê.

'Ek dink die man wat dit gesê het, is ’n idioot.'

Toetse het getoon die man het nie die virus nie, maar sy uitlating tydens die vlug het angs en woede onder die meer as 200 passasiers en bemanningslede aan boord veroorsaak.

“Ek dink die man wat dit gesê het, is ’n idioot; ek sal dit prontuit sê, en as julle my oor, gee ek nie om nie,” het ’n vlugkelner gesê voor die man van die vliegtuig vergesel is.

- Sapa