Swendelary met vakansieverblyf het die afgelope paar jaar toegeneem. Dit neem verskillende vorme aan, maar die metodes bly redelik dieselfde: voornemende vakansiegangers word verblyf belowe, oorreed om ’n deposito te betaal en wanneer hulle by die plek opdaag, is daar reeds mense met ’n niksvermoedende eienaar, of hulle daag op by verblyf wat nie eens bestaan nie.

Hier is wenke om te verseker jy word nie uit jou swaarverdiende geld gekul nie.

Doen navorsing Die foto’s wat die adverteerder verskaf lyk dalk idillies, maar beeld dit regtig uit wat by jou bestemming op jou wag? “’n Swendelaar sal dikwels ’n paar foto’s van ’n wettige advertensie of eiendomsblad haal en dit as advertensielokaas gebruik,” sê Claire Cobbledick, bemarkingshoof by Gumtree South Africa.

"Spelling, grammatika en leestekens is belangrike leidrade"

Google het ’n meganisme waarmee jy die oorsprong van enige foto aanlyn kan naspoor: jy regsklik op die foto en kies ‘Search Google for this image’. Jy word ook aangeraai om die adres van die verblyfopsies op Google te gaan soek en Google Street View te gebruik om te bevestig die adres is wel die een wat geadverteer word.

Bekyk die besonderhede

Skenk aandag aan die advertensie waarop jy reageer. Detail soos spelling, grammatika en leestekens is belangrike leidrade, al is dit hoe gering. Die verkeerde gebruik hiervan kan ’n besliste teken wees dat jy met ’n bedrieër te doen het.

Monitor hul aanlyn en telefoongewoontes en kyk uit vir verdagte gedrag, voortvarendheid, ontwykendheid en ’n dringendheid om jou oor te haal om ’n besluit te maak en jou geld te oorhandig.

“Wat jy ook al koop, hou net in gedagte as die prys te goed klink om waar te wees, dan is dit gewoonlik,” sê Claire.

Verifieer

Maak seker jy verifieer alles wat bespreek is. Onthou, daar word van jou verwag om te betaal, so die minste wat jy kan doen, is om voor jy enige deposito’s betaal doodseker te wees elke detail is bo verdenking.

“Dis die moeite werd om met ’n paar gaste te praat wat al daar verblyf bespreek het om die egtheid te bevestig en sommer in die proses lekker reiswenke te kry,” sê Claire.

Vra die adverteerder vir vorige gaste se besonderhede sodat jy dinge kan nagaan en die eienaarskap van eiendom kan bevestig.

Die idee dat iemand jou dalk wil kul, is skrikwekkend, en dis jammer dat hierdie soort verneukery bestaan, maar jy kan ook wonderlike, regte juwele aanlyn te vind.

As jy onseker is oor ’n advertensie op Gumtree, kan jy ’n e-pos stuur na adchecker@gumtree.co.za of besoek help.gumtree.co.za. Wees skrander, doen navorsing en geniet jou vakansie!

 Foto ter illustrasie.