Bonkige winterbaadjies en jou kind se karstoeltjie kan ’n gevaarlike kombinasie wees. Navorsers by die Amerikaanse Akademie vir Pediatrie het in ’n onlangse studie bevind in die geval van ’n ongeluk kan kinders se kleredrag ’n negatiewe impak op hul motorveiligheid hê.

“As jy die bande van jou kind se karstoeltjie om ’n dik baadjie vasmaak, is daar ’n groter kans vir ’n besering tydens ’n ongeluk omdat die baadjie tydens impak saamdruk en die beweegruimte binne die harnas groter word,” verduidelik Robyn Farrell, die uitvoerende hoof van die versekeringsmaatskappy 1st for Women.

Al lyk dit vir jou of jou kind met ’n dik baadjie aan knus in sy karstoeltjie sit, skep die sagte materiaal ekstra ruimte tussen die bande en jou kleinding.

“Daarom behoort jou kind in die kar net klere te dra wat hy by die huis ook sal dra. So kan jy verseker die karstoeltjie se bande word so knus moontlik vasgemaak,” raai sy aan.

Dieselfde geld vir kinders wat op verhoogde sitplekke in die motor sit.

Gebruik die knyptoets om te kyk of jou kind reg vasgemaak is: Maak jou kind met die baadjie in die karstoeltjie vas soos gewoonlik. Maak die knip los sonder om die band te verstel, trek jou kind se baadjie uit en maak hom dan weer in die stoeltjie vas. As jou kind vasgemaak is, behoort dit onmoontlik te wees om die band by jou kind se skouer in ’n lus vas te knyp.

Wenke om jou kleingoed knus en veilig by jou bestemming te kry:

  • Trek jou baba en jong kinders in dun lae aan wanneer jy hulle in die karstoeltjie gaan vasmaak. Vou dan ’n baadjie of ’n kombers om hulle sodat hulle warm bly.
  • Maak seker jou kind is knus in sy karstoeltjie vas.
  • Gebruik die knyptoets om te kyk of die bande van die karstoeltjie styf genoeg vasgemaak is.
  • Moet nooit iets onder jou kind se boude sit wanneer hy in die karstoeltjie sit nie – ook nie ’n winterbaadjie nie.

- Shané Barnard