Kenners waarsku “vergete oppervlakke” soos ligskakelaars en deurknoppe kan kieme, byvoorbeeld die griepvirus, oordra.

Navorsers het opgemerk mense staan ure af om hul huis van bo tot onder skoon te kry, maar as jy nie die oppervlakke afvee wat gereeld aangeraak word nie, kan jy steeds op dié manier siek word.

Dit gebeur omdat ’n mens dikwels iets met jou hande eet of aan jou gesig raak en die kieme dan so in jou liggaam beland (as jy nie jou hande genoegsaam was nie).

In die nuutste uitgawe van die tydskrif New Scientist word mense aangeraai om plekke te identifiseer waar infeksies oorgedra kan word en seker te maak dit word skoongemaak.

“Ek dink mense konsentreer so hard op die verwydering van sigbare vullis dat hulle vergeet om ligskakelaars en deurknoppe skoon te maak,” het Sally Bloomfield, ’n mikrobioloog en ereprofessor aan die London School of Hygiene and Tropical Medicine, gesê.

“As jy na ’n deurhandvatsel kyk, sou jy sê dis skoon, want jy sien geen vullis daaraan nie. Die probleem is iets wat skoon lyk, is nie noodwendig higiënies skoon nie.

“Iemand wat byvoorbeeld ’n maaggriepvirus onder lede het, kan met oënskynlik silwerskoon hande aan ’n oënskynlik silwerskoon deurknop raak, maar op sy hand kan kieme wees wat oorgedra word aan die volgende mens wat die deur oopmaak. Dié kan op hul beurt aan hul mond raak en so die virus opdoen.”

Weens die algemene voorkoms van verkoue en griep het Sally en dr. Lisa Ackerly, ’n voedselveiligheidsraadgewer by die Britse Gasvryheidsvereniging, albei aanbeveel dat skoonmakers meer aandag gee aan areas soos ligskakelaars, deurhandvatsels en badkameroppervlakke.

Dit is ook belangrik om op die regte tyd skoon te maak, byvoorbeeld nadat jy voedsel berei en nadat jy die toilet gebruik het.

En as jy gaan kuier by iemand wat siek is? “’Jy moet self verantwoordelikheid aanvaar. Dalk het die ongestelde gasheer die kieme dwarsdeur die huis versprei, maar het jy daaraan gedink dat jy weens besmette hande kan aansteek?”

© Cover Media