Terwyl sy maats met karretjies en boublokke speel, is die 9-jarige gholfspeler Kayle Wykes van Johannesburg op pad Skotland toe waar hy Suid-Afrika in die Europese kampioenskapstoernooi gaan verteenwoordig.

Dié gholf-genie, wat met net twee jaar ervaring op die gholfbaan vir dié toernooi gekwalifiseer het, hoop om van 28 tot 30 Mei in East Lothian, Skotland, teen die wêreld se voorste jong gholfspelers koning te kraai.

Hoewel hy aanvanklik in sokker, krieket, swem, tennis en karate uitgeblink het, is sy belangstelling in gholf twee jaar gelede geprikkel deur sy pa, Derek, wat gereeld saam met familielede die gholfstokke geswaai het.

“Ek het begin gholf speel omdat my familie nie sokker of enige ander sport gespeel het nie,” het hy tydens ’n onderhoud op SAfm vertel. “My familie het meesal gholf gespeel; so ek wou ook ’n gholfspeler word om hulle te ondersteun.”

In 2011, dieselfde jaar dat hy begin gholf speel het, het hy al aan sy eerste toernooi deelgeneem en verlede jaar die septer geswaai in die SA gholftoernooi vir kinders. Kort daarna het hy gekwalifiseer vir die toernooi in Skotland. Hy gaan vir die volgende drie jaar ook in ’n wêreldtoernooi in Amerika kan speel.

Kyle is maar in gr. 4 aan die Sacred Heart-kollege in Johannesburg en wil eendag voltyds golf speel. Teen 17 wil hy kers vashou by sy gholfhelde, Tiger Woods en Louis Oosthuizen.

– Christiaan Boonzaier.

Bronne: facebook.com, SAfm