Aanlyn slenters, identiteitsdiefstal en kaartbedrog jaag Suid-Afrikaners jaarliks miljoene uit die sak, en dit neem toe.

Suid-Afrika is nou die land wat die naasmeeste onder aanlyn slenters en uitvissing (phishing) deurloop.

“Terwyl die hele wêreld sukkel met ’n vinnige toename in hierdie slenters, bly Suid-Afrika se statistiek oor ekonomiese misdaad steeds veel hoër as die wêreldgemiddelde,” sê Rudolph Lamprecht, die voorsitter van Phishield, ’n voorste waarborg teen kubermisdaad.

“Mense word op verskeie maniere ingeloop, van die gebruik van vervalste kredietkaarte tot iemand se hele identiteit gebruik om rekeninge te open, lenings te verkry en ander onwettige aktiwiteite uit te voer,” sê hy.

Tien van die gewildste slenters, volgens Phishield:

1.  Identiteitsdiefstal is wanneer iemand jou persoonlike inligting, soos jou naam of identiteitsnommer gebruik om bedrog of ander misdade te pleeg. Dit is een van die hoof bydraende faktore tot suksesvolle bedrog en kos Suid-Afrika jaarliks meer as R1 biljoen.

2.  Phishing (uitvissing)is aanlyn bedrog. Bedrieërs stuur vals e-posse om mense se waardevolle inligting soos kaartnommers, gebruikersname, wagwoorde en bankbesonderhede in die hande te kry. Die meeste mense weet wat phishing is, maar word steeds om die bos gelei.

3.  Smishing (teksuitvissing) is uitvissing per teksboodskap. Met die opbloei van selfoongebruik in Suid-Afrika is dit nie verbasend nie dat bedrieërs ook so toeslaan. Moenie jou bankbesonderhede of PIN so verklap nie.

4.  Kredietkaartbedrog – As ’n misdadiger jou kaartnommer en vervaldatum in die hande kry, kan hulle items oor die telefoon of aanlyn koop. Volgens die Suid-Afrikaanse Bankrisiko-inligtingsentrum (Sabric) was die verlies verlede jaar R366,8 miljoen, ’n toename van 22 persent vergeleke met 2012 se R300,6 miljoen.

5.  Kaartafdrukke is die onwettige praktyk van die inligting op ’n kaart se magnetiese strook kopieer. Dit kan by enige OTM of kaartmasjien gebeur. Dit is een van die grootste vorme van kaartbedrog in Suid-Afrika. Dit maak amper ’n kwart van al die debiet- en kredietkaartbedrog uit en beloop miljoene rande.

6.  Bedrog met vervalste kredietkaarte behels dat onwettig vervaardigde kaarte die inligting gebruik wat van die magnetiese strook van ’n wettige kaart gesteel is. Misdadigers gebruik sulke kaarte ál meer in buurlande soos Namibië, Swaziland, Lesotho en Mosambiek, spesifiek om onttrekkings by OTM’e te maak. Dié soort bedrog het verlede jaar met 27 persent toegeneem en 39 persent van die totale verlies deur kredietkaartbedrog uitgemaak.

7.  Bedrog met verlore en gesteelde kredietkaarte – As jy jou kaart verlê het of as dit gesteel is, moet jy dit onmiddellik by jou bank aanmeld. Bedrog met verlore en gesteelde kredietkaarte het mense in 2012 R15,6 miljoen uit die sak gejaag, maar in 2013 was die bedrag R31,7 miljoen, ’n toename van 102 persent.

8.  Bedrog sonder ’n kaart is ’n gewilde soort kredietkaartbedrog, want ’n handelaar kan moeilik bevestig dis wel die kaarthouer wat die transaksie goedkeur. Dit kan gedoen word met posorders, verkope oor die telefoon of aanlyn. Sulke bedrog raak nou algemener: Dit het in 2012 R154,7 miljoen beloop en R178,7 miljoen in 2013, ’n toename van 16 persent. Inwoners van Gauteng, die Wes-Kaap en KwaZulu-Natal maak altesaam 86 persent van dié bedrog se slagoffers uit.

9.  Rekeningbedrog –  Dit is een van die basiese vorme van identiteitsdiefstal (die ander een is aansoekbedrog), en dit gebeur wanneer ’n misdadiger ’n slagoffer se persoonlike inligting kry en dit gebruik om beheer te neem van bestaande bank- of kredietkaartrekeninge en ongemagtigde transaksies daarmee uitvoer. Aansoekbedrog gebeur wanneer ’n misdadiger iemand se persoonlike inligting gebruik om ’n nuwe rekening te open. Rekeningbedrog is die snelgroeiendste soort bedrog in Suid-Afrika – dit het in 2012 R1,1 miljoen beloop en R2,3 miljoen in 2013, ’n toename van 100,5 persent.

10. Tjekbedrog – Tjeks is steeds ’n gewilde betaalmetode; daarom bly tjekbedrog gewild. Daar word beraam dat tjekbedrog 46 persent van bankbedrog wêreldwyd uitmaak. In Suid-Afrika is dit sowat 50 persent. Volgens die bankraad het meer as R200 miljoen in 2013 weens tjekbedrog in die verkeerde hande beland.

“Die waarheid is, bedrog kan enigeen oorkom; jou beste verdediging is kennis. Dit help as jy dit kan identifiseer. Phishield bied die laaste verdedigingslinie sou daar iets met jou gebeur,” sluit Rudolph af.

Bron: phishield.com