[caption id="attachment_174331" align="alignnone" width="400"]Die berugte epos. Foto: Verskaf Die berugte epos. Foto: Verskaf[/caption]

Bedrieërs doen hulle naamlik as Nedbank-werknemers voor deur e-posse waarin jy gevra word om ’n HTML-dokument af te laai. Dit lyk dalk vir verbruikers asof die e-pos van Nedbank af kom, maar dit is uiteraard nie die geval nie. Die gewraakte e-pos blyk van die adres “ficaAlert@nedbank.co.za” af te kom, en meld dat Nedbank nog “vir Fica-dokumente wag”. Maar as jy op die aangehegte HTML-lêer klik, beland jy op ’n vals Nedbank-webtuiste, waar jy dan gevra word om jou profielbesonderhede, PIN en wagwoord in te tik. As jy dit sou doen, word jou geld blitsig uit jou rekening gesteel.

Nedbank kan soms kliënte kontak oor uitstaande inligting wat kragtens Fica-regulasies vereis word, maar geen bank sal ooit jou PIN en wagwoord vra nie, hetsy via e-pos, SMS of telefonies, benadruk Alan Shannon, hoof van kleinsake- en beroepskliëntbankdienste.

Hier is nog ’n paar wenke oor hoe jy jou teen uitvissing en kuberskelms in die algemeen kan beskerm.

  • Wees versigtig vir enige e-pos of teksboodskap wat jou vir persoonlike inligting vra, soos jou ID-nommer of bankbesonderhede (profiel, PIN en wagwoord).
  • Webtuiste-adresse (URL’e) wat met “http” pleks van “https” begin, is nie beveilig nie (’n vereiste van webtuistes waar sensitiewe inligting ingevoer word). ’n Slotjie-simbool in die adresveld dui ook aan dat dit wel so ’n beveiligde “https”-webtuiste is. As jy dus iets wat soos die slotjie-simbool lyk, slegs ’n “http”-adres (sonder die “s” vir “secure”), kan jy maar weet dit is ’n vals webtuiste.
  • Moenie aanhegsels van onbekende oorsprong oopmaak nie.
  • Maak seker jy het voldoende aanlynbedrogbeskerming- en teenvirussagteware op jou rekenaar.
  • Advies oor die doeltreffendheid van die verskillende sagtewarepakkette is onder meer verkrygbaar by die onafhanklike webdiens av-comparatives.org, wat gereeld toonaangewende antivirussagteware toets.
  • Werk voortdurend jou bedryfstelsel- en antivirus-sagteware by. (Die beste is om jou sagteware hiervoor op die aanbevole verstellings te hê – meestal outomatiese bywerking.)
  • Let op na enige verdagte transaksies op jou bankstate en stel jou bank dadelik van so iets in kennis.
  • As jy ’n boodskap oor ’n simomruiling wat jy nie aangevra het nie van jou selfoondiensverskaffer ontvang, moet jy jou PIN en wagwoord onmiddellik verander en jou bank kontak, maan Nedbank.