Die hertog en hertogin van Cambridge het hul respek aan koningin Elizabeth betoon deur voor haar te buig voordat hulle in ‘n koets van Westminster na Buckingham-paleis vertrek het.

Sowat 1 miljoen mense het hulle langs die pad ingewag om die pasgetroudes te siene te kry.

Kate het ‘n koninklike tradisie verbreek deur nie haar ruiker op die graf van die Onbekende Soldaat in Wesminster neer te lê soos koninklike bruide gewoonlik doen nie. Die tradisie is in 1923 deur koningin Elizabeth III begin en Kate was die eerste sedertdien wat dit nie nagevolg het nie.

Clarence House het pas aangekondig die ruiker sal later daar neergelê word – of Kate vergeet het, en of sy vooraf besluit het om dit nie te doen nie, is nog nie duidelik nie.

Koninklike trou-beamptes het ‘n sug van verligting geslaak oor die weer.

Hulle het vanoggend reggestaan met twee koetse – een oop en een met ‘n glasdak, ingeval dit reën.

Maar die reën het lank genoeg weggebly dat Kate en William in die oop koets, ‘n 1902 Landau, tot by Buckingham-paleis kon ry. Die koets is deur vier wit perde getrek.

Daar is vandag twee onthale by die paleis – eers ‘n middagete vir 650 gaste en later vanaand ‘n lekker partytjie vir sowat 300 van Kate en William se vriende.

Die slegte nuus is dat die troue glad nie so omgewingsvriendelik is soos Kate gehoop het nie. Kenners meen die troue sal soveel as twaalf keer soveel koolsuurgas in die atmosfeer vrystel as wat Buckingham paleis in ‘n jaar doen – ‘n totaal van 6 765 ton.