Sy erken ook ruiterlik dat Brian se afmetings en gewig haar aanvanklik ’n bietjie na haar asem laat snak het. En met goeie rede . . .

Brian Liddle jnr. het by sy aankoms sommer onmiddellik in die Brian Senior-kategorie ingeweeg deur die skaal op 6,06 kg te laat kreun – byna dubbel die gewig en lengte (57 cm) van die gemiddelde baba wat in die land gebore word.
Liam Lilidoni (regs op die foto hieronder) is net soos Brian jnr. ook Dinsdag gebore. Hy het ’n meer beskeie 2,8 kg geweeg.
En wat het Natashia te sê oor haar ekstragroot bondeltjie vreugde wat vier weke en vyf dae langer in haar lyf vertoef het voor hy sy verskyning gemaak het? “Dis my eerste swangerskap waar ek op die natuurlike manier die lewe gee, dis my langste swangerskap nog (sy het reeds drie kinders) en ek het nou die vet, klein mannetjie wat ek wou gehad het.”

Hoewel Brian gewis dreig om rekords in Victoria te breek, het ’n ander ma, Tricia Sonneveld, aan die Herald Sun verel van haar seun Archer. Die outjie het by geboorte 6,134 kg geweeg. Anders as Brian, wat langer vertoef het, het Archer te vroeg sy opwagting gemaak – tot groot verligting van sy ma.

Volgens Guinness World Records se webtuiste is die swaarste en langste baba op rekord Anna Bates (née Swan) se seun wat op 19 Januarie 1879 in Ohio, Amerika, gebore is. Hy het 9,98 kg geweeg en was 71,12 cm lank. Hy was nog nie amptelik gedoop nie en is “Babe” genoem. Hy het 11 ure ná sy geboorte gesterf.

Terloops, Anna was self 2,413 m lank en haar man Martin 2,362 m. Tot vandag toe hou hulle die rekord vir die langste egpaar. Anna en Martin was lede van ’n rondgaande sirkus.

Bronne: news.com.au, heraldsun.com.au, kidspot.com.au, guinnessworldrecords.com