“My held is vanoggend vroeg oorlede. Dankie dat jy ’n perfekte pa was, ek is trots om jou seun te wees. Geniet jou nuwe tuiste pa. Ek mis jou,” het Dieter vanoggend getwiet.

Dieter se vrou, Martelize, sê daar is in Augustus verlede jaar ’n skaars bloedkanker by haar skoonpa gediagnoseer. “Hy het baie chemoterapie ondergaan en het net swakker geraak,” vertel sy. “Hy is die naweek by ’n privaat hospitaal in Mosselbaai opgeneem. Hy het net agteruitgegaan; hy het gister morfien gekry en het heeldag geslaap. Sy organe het net ingegee en hy is gisteraand so halfeen oorlede.”

Neels se suster, Nellie, was langs sy hospitaalbed met sy afsterwe, sê Martelize. Dieter se ma, Sarie, en sy drie broers, Jaco, Heinrich en Neil, is verpletter deur sy dood.

Dieter was verlede week die hele week in sy tuisdorp, Mosselbaai, om sy pa te ondersteun. Hy het Sondag teruggekeer na hul woonstel in Bellville, Kaapstad, maar moes gister weer terughaas Mosselbaai toe nadat sy pa verswak het, vertel Martelize. Hy het haar vanoggend net voor eenuur gebel om die skoknuus oor te dra.

Dieter se jongste broer, Neil, woon in hul ouerhuis op Mosselbaai. Sy ouer broers, Jaco en Heinrich, woon in KwaZulu-Natal. Heinrich land môre in Kaapstad en hy en Martelize en haar en Dieter se tweejarige dogtertjie, Mijean, ry dan Mosselbaai toe. “Hulle is nog besig om die begrafnisreëlings te tref,” vertel Martelize, ’n sangeres en stemafrigter by die Campus of Performing Arts. Dieter het vroeër vanjaar weer onderwys begin gee by die Laerskool Welgemoed.

“Dieter is so bly dat julle sy pa se storie deel, want hy was sy held,” sê Martelize. “Hy voel so min mense praat oor kanker,” sê sy. “En hy meen daar moet meer bewusmaking wees rondom dié siekte.” Ons wens Dieter en sy familie baie sterkte toe in dié moeilike tyd.

- Lara Atson