Baie mense aanvaar dat ’n vrou van nature geskikter is om kinders te versorg. En ná eeue se oefening en ervaring is dit seker geen verrassing nie dat vroue se brein die verskillende vaardighede en emosies wat dié rol behels, goed onder die knie het. Maar wat gebeur wanneer ’n man die rol van primêre versorger moet vervul?

’n Nuwe wetenskaplike studie het nou bewys die versorging van ’n kind het ’n sekere effek op die brein – ongeag of dit ’n man of ’n vrou is wat die versorgingswerk doen. Die navorsing is onlangs deur die Proceedings of the National Academy of Sciences gepubliseer.

Die navorsers wou kyk wat gebeur in die brein wanneer ’n ouer vir hul kind sorg. Vir hierdie doel is 89 mense ondersoek wat vir die eerste keer ouers geword het. Die proefkonyne het uit drie groepe bestaan: heteroseksuele ma’s wat primêre versorgers is, heteroseksuele pa’s wat ondersteunende ouers is, en homoseksuele pa’s wat primêre versorgers is en hul kinders sonder’n vrou grootmaak.

Die ouers moes na video’s kyk van hul eie interaksie met hul kinders, terwyl die navorsers hul breinaktiwiteit dopgehou het. So kon die wetenskaplikes ’n “ouersorg”-breinnetwerk identifiseer wat uit twee dele bestaan: ’n emosionele deel, wat die ouer se bewustheid van ’n kind se veiligheid reguleer, en ’n sosiale deel, wat ouers hul kind se boodskappe help verstaan .

Die resultate het getoon die breinaktiwiteit van die pa’s wat meer tyd bestee aan die versorging van hul kind verander om hulle vatbaarder te maak vir besorgdheid oor hul kind se veiligheid. Daar was duidelike verskille tussen die brein van vroue wat die primêre versorger is en mans wat in ’n ondersteunende rol staan. Vroue se emosionele deel is vyf keer meer aktief; dus is hulle bekommerder oor die kind se veiligheid, terwyl mans meer aktiwiteit gewys het in die deel wat oor sosiale interaksie handel. Maar wanneer ’n man die primêre versorgingsrol vervul, word albei die “ouerskap-streke” in die brein baie aktief.

“Swangerskap, geboorte en melkvorming by ’n vrou is baie kragtige voorbereiding om bekommerd te wees oor haar kind se oorlewing,” sê Ruth Feldman, die senior navorser. “Pa’s het die vermoë om dit net so goed soos ma’s te doen, maar hulle het daaglikse versorgingaktiwiteite nodig om die moederskapsnetwerk te aktiveer.”

- Saamgestel deur Suzaan Hauman

Bronne: healthday.com, independent.co.uk, latimes.com

Volg ons gerus op Facebook en Twitter en kom speld saam op Pinterest.