Min. Albert Fritz (Foto: Die Vryburger)

Die skokkende voorval het Saterdagoggend 9:40 voor die Assembly of God-kerk in Zwelitsha-rylaan in Nyanga plaasgevind.

Twee rowers het Frits se selfone gesteel waarna een van hulle 'n vuurwapen op Fritz en sy lyfwagte gerig het.

JP Smith, burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit van die Kaapse metroraad, het aangedui dat die lyfwagte in reaksie daarop teruggevuur het om die minister te beskerm.

Kapt. FC Van Wyk, 'n polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

"Een van die verdagtes is noodlottig gewond, een ernstig gewond. 'n Omstander is ook tydens die voorval gewond.

"Die polisie ondersoek 'n saak van poging tot roof van minister Fritz. Een van die verdagtes is tans onder polisiebewaking in die hospitaal. OPOD ondersoek die saak."

Smith het intussen bekend gemaak dat hy reeds met Fritz in kontak was na afloop van die voorval.

"Minister Fritz het aangedui dat hulle veilig en ongedeerd is en hy het berading versoek vir diegene wat deur die voorval geraak is."

SaveSaveSave