Navorsers het bevind die gouewebspinnekop wat woon in stedelike gebiede van Sydney, Australië, is groter en plant flukser voort.

Die studie se bevindinge is in die vaktydskrif PLOS One gepubliseer. Tydens die ondersoek het navorsers 222 spinnekoppe bestudeer wat tussen April en Junie 2012 versamel is.

Die navorsers het bevind: “Veranderinge in habitat verander spesieverspreiding aansienlik. Dit kan lei tot ’n verhoogde voorkoms van sekere spesies wat sommige nuwe ekostelsels kan benut.

“Spinnekop-grootte word nadelig beïnvloed deur plantbedekking op landskapsvlak, maar vind baat by harde oppervlakke en menslike versteuring op ’n plaaslike en mikrohabitat-vlak.

“Die groter grootte en verhoogde voortplantingsvermoë van die spinnekop in stedelike gebiede toon dat sommige spesies baat vind by die habitatveranderings wat verband hou met verstedeliking.”

Gouewebspinnekoppe, ook bekend as Nephila plumipes, kom voor in Queensland in Australië, Indonesië and sommige eilande in die Stille Oseaan.

Hulle is bekend vir hul helderkleurige buik en kan spinnerakke van tot 1 m lank vervaardig wat ’n goue skynsel het.

Die wyfies is dikwels drie tot vier keer groter as die mannetjies. Al het hulle wel gif, is hulle gewoonlik skadeloos.

Bronne: Sky News, LA Times, Discovery News