Die OFM-omroeper Johrné van Huyssteen dink Jack Parow se bemarkingsfoefie waarin die kletsrymer voorgegee het hy word deur die polisie aangehou, was briljant. “Dit is nogal geloofwaardig dat iemand soos Jack Parow in hegtenis geneem kan word.”

Jack het Woensdag laat blyk hy is vir rusversteuring in hegtenis geneem nadat hy en ’n groep vriende ’n katamaran “geleen” het. Jack het ook ’n selfoonvideo wat lyk of dit in ’n aanklagkantoor gemaak is op sy Facebook-aanhangersblad geplaas waarin hy sê: “Die bra’s wil my nie laat gaan nie.” Die provinsiale polisiewoordvoerder van Noordwes het bevestig Jack is nooit in hegtenis geneem nie.

Dié bemarkingsfoefie kom kort voor Jack se beplande optrede by vanjaar se Oppikoppi-musiekfees, wat die naweek in Limpopo plaasvind. Johrné glo dié foefie gaan Parow se optrede nog gewilder maak. “Dit is enige kunstenaar se droom om sulke goeie bemarking te kry. Dit was ’n goeie stunt en dit het gewerk, so wel gedaan.”

Nie al Jack se Facebook-aanhangers is so positief soos Johrné nie. Johnny Gevaarlik se kommentaar was: “Ag komaan, Jack. Moenie jou aanhangers se intelligensie onderskat nie. Dis duidelik dis een groot bemarkingsfoefie dié en niks meer nie.”

Johrné glo Jack hoef hom nie oor dié soort reaksie te bekommer nie. “Sy fans sal hom vir enigiets vergewe. Behalwe as hy die ANC-president sou word.”

- Shané Barnard