Johannesburg –

Die voormalige Paralimpiese atleet sou op 21 Augustus uit die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria vrygelaat word om die res van sy tronkstraf onder huisarres uit te dien. Die minister van justisie, Michael Masutha, het egter twee dae vooraf aangekondig hy sou nie vrygelaat word nie.

Hy het gesê die paroolraad het voortydig opgetree toe dit in Junie besluit het Oscar kon op 21 Augustus vrygelaat word. Hy het gesê die raad moes eers die besluit op 21 Augustus geneem het omdat hy toe 10 maande – of ’n sesde – van sy vyfjaar-tronkstraf uitgedien het.

Michael se besluit het gekom ná ’n brief van die vroueregtegroep The Progressive Women’s Movement wat gevra het dat Oscar nie tydens Vrouemaand vrygelaat word nie.

Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die departement van justisie, kon nie vir kommentaar bereik word vir besonderhede oor Vrydag se verrigtinge nie.

Die uitsaaier eNCA het berig die raad sou in Durban vergader en dat Oscar se prokureurs nie deel van die proses sou wees nie.

Regter Thokozile Masipe het Oscar in Oktober verlede jaar vyf jaar tronkstraf opgelê vir die skietdood van sy meisie Reeva Steenkamp. Hy het haar op Valentynsdag 2013 deur ’n geslote toiletdeur in sy huis in Pretoria doodgeskiet en beweer hy het gedink sy’s ’n inbreker.

Die staat is verlof toegestaan om teen die aanklag van strafbare manslag te appelleer. Hulle wil hê hy moet skuldig bevind word aan moord, wat ’n swaarder tronkstraf beteken. Die appèlhof in Bloemfontein sal die saak in November aanhoor.

Bron: News24