Mark David Chapman, die man wat die wêreld van een van sy talentvolste liedjieskrywers beroof het, is die negende keer parool geweier.

Chapman, wat in Texas gebore is, het reeds van kleins af gedroom hy kan mag uitoefen oor die denkbeeldige klein mensies wat in die mure van sy slaapkamer gewoon het.

Was hy bloot ’n rebelse tiener toe hy as 14-jarige dwelms begin gebruik, skool gebank en van die huis af weggeloop het? Of was dit waarskuwingstekens dat Chapman later weens al die verkeerde redes wêreldwyd ’n bekende naam sou word? Sy grootwordjare is gekenmerk deur verbroke verhoudings, pogings om sy lewe te neem, die onvermoë om ’n werk te behou en later vreemde obsessies: kuns, die veelbesproke boek The Catcher in the Rye deur J.D. Salinger en natuurlik John Lennon. In September 1980 het hy ’n brief geskryf aan een van sy vriende, Lynda Irish. Daarin sê hy is besig om gek te raak. Hy het dit as “The Catcher in the Rye” onderteken. Chapman het aanvanklik van die Beatles se musiek gehou en John selfs verafgod. Tot hy tot bekering gekom het. Hy was woedend omdat John gesê het die Beatles is gewilder as Jesus. Sy woede het begin handuit ruk en die volgende drie maande lank het hy die moord op John beplan. Intussen het John en sy vrou, Yoko Ono, op 20 Augustus 1980 aan sy finale album, Double Fantasy, begin werk.

Chapman was ook vies omdat John ’n boodskap van liefde en vrede verkondig het, maar onder meer miljoene dollar, seiljagte en plase besit het. Sy obsessie met John was boonop geen geheim nie. Hy het selfs vir sy vrou, Gloria Abe, die vuurwapen en koeëls gewys. Sy het stilgebly.

Op 6 Desember 1980 het Chapman ’n vlug na New York gehaal. Die dag voor die moord, 7 Desember, het James Taylor op die moltrein onder Chapman deurgeloop. Volgens die sanger en liedjieskrywer is hy teen die muur vasgedruk terwyl Chapman op byna onsamehangende wyse vertel het wat hy beplan en dat hy John sou kontak.

Op 8 Desember 1980 het Chapman sy Sheraton-hotelkamer sonder sy persoonlike besittings verlaat. Op pad na sy selfopgelegde moordsessie koop hy ’n boek: The Catcher in the Rye. Die res van die dag het hy uitgespan naby die ingang van The Dakota, waar John, Yoko en hul vyfjarige seun, Sean, gewoon het.

Chapman het selfs Sean se oppasser ontmoet en Sean se hand geskud. Sowat 17:00, net voor die Lennon-geselskap vertrek vir ’n opnamesessie by Record Plant Studios, vra Chapman John se handtekening op Double Fantasy. Paul Goresh vang die oomblik op kamera vas.

Met hul terugkeer rondom 22:50 loop die groep verby Chapman. Dis die geleentheid waarop hy hom voorberei het. Met ’n .38-rewolwer vuur hy vyf skote af. Vier tref John in sy rug en linkerskouer. Om 23:07 word John Lennon dood verklaar.

Anders as verwag, bly Chapman op die moordtoneel. Hy het iets om te doen. Hy moet die boek lees wat hy op pad daarheen gekoop het: The Catcher in the Rye.

NBC het die moord op John soos volg hanteer.

So vertel Chapman in 1992 in sy eie woorde wat daardie noodlottige aand deur sy kop gegaan en hoekom hy dit gedoen het.

Toe Yoko oor Chapman en vergifnis gevra is, het sy vertel van die pous wat die gevangene besoek het wat hom probeer doodmaak het en hoe hy die man vergewe het. “Ek is nie die Pous nie,” het sy gesê, en vertel hoe moeilik dit vir haar is. John was ’n ware woordsmid, iemand wat ’n mens kon inspireer.
Maar hy was ook die man wat vele petrolkoppe tot in die volgende generasie na hul asems sou laat snak. Kyk net wat hy met sy Rolls Royce aangevang het!
John en die Beatle George Harrison in 1968 op die oewer van die Ganges-rivier in Indië.

Kitsfeite oor The Catcher in the Rye

1. J.D. Salinger het die boek geskryf nadat hy uit ’n hospitaal vir sielsiekes vrygelaat is. Sy eerste boek nadat hy die hospitaal verlaat het, was getiteld I’m Crazy.

2. The Catcher in the Rye het kragwoorde deel van die hoofstroom gemaak. Dit sou daartoe lei dat die boek een van die vorige eeu se mees verbanne boeke was.

3. Salinger wou ná die derde uitgawe sy foto van die rugkant van die boek laat verwyder omdat hy keelvol was vir vaskyk in die opgeblaasde swart-wit foto van sy gesig op die boekomslag.

4. Die boek is ook gevind in die woonstel van John Hinckley Jr. wat ’n oudpres. Ronald Reagan van Amerika wou vermoor.

5. Die boek-van-die-maandklub wou hê Salinger moes die titel van die boek verander. Sy reaksie? Die karakter in die boek, Holden Caulfield, sou nie daarvan hou nie.

Ander potensiële slagoffers op Chapman se moordlys

Toe Chapman in Oktober 1980 in New York aankom, het hy nie net vir John op sy lysie gehad nie. Ander potensiële slagoffers was:

1. Johnny Carson (TV-geselsprogramaanbieder)

2. David Bowie (sanger)

3. Marlon Brando (akteur)

4. Walter Cronkite (Amerikaanse uitsaaiverslaggewer)

5. Elizabeth Taylor (aktrise)

6. George C. Scott (akteur)

7. Jackie Kennedy Onassis (vrou van wyle oudpres. John F. Kennedy van Amerika en die Griekse skeepsmagnaat Ari Onassis)

Chapman se vorige aansoeke om parool

1. Ná 20 jaar in die gevangenis kon Chapman vir die eerste keer vir parool aansoek doen. In 2000 het hy ná ’n sessie van 50 minute beweer hy hou nie ’n gevaar vir die samelewing in nie. Die paroolraad voel egter anders daaroor.

2. In 2002 voer die paroolraad aan parool sal die erns van die oortreding ondermyn.

3. In 2004 misluk Chapman se derde aansoek ook. Die paroolraad voer die oneindige lyding van Yoko, wat die moord op haar man moes aanskou, aan as die rede daarvoor.

4. Tydens ’n sessie van 16 minute word in 2006 beslis Chapman se vrylating sal onder meer nie in die belang van die gemeenskap wees nie. Sy eie veiligheid wek ook kommer.

5. Dieselfde redes geld vir die verwerping van sy vyfde aansoek om parool in 2008.

6. Tydens Chapman se sesde aansoek op 11 Augustus 2010 voer Yoko vrees vir haar veiligheid aan as gronde om te weier.

7. Chapman gee nie bes nie. In 2012 is hy weer voor die paroolraad. Daar word aangevoer dat sy vrylating op parool die respek vir die reg sal ondermyn, so ook die tragiese verlies van ’n lewe.

8. In 2014 vertel hy die paroolraad hy het in Jesus vrede gevind en dat Jesus hom vergewe het. Terselfdertyd spog hy met die berugtheid wat hy verwerf het. Hy bestempel die moord op John as een van ongelooflike, verstommende bekruipery en as ’n ernstige en weldeurdagte misdaad.

9. Op 29 Augustus word sy parool ’n negende keer geweier op grond daarvan dat sy misdaad met voorbedagte rade gepleeg was, asook met die doel om bekendheid te verwerf.

Chapman kan weer in Augustus 2018 aansoek doen om parool. Dit bly ’n ope vraag of hy by sy lot sal berus of weer vryheid sal opsoek.

Ons top-vyf John Lennon-musiekvideo’s

Met sy musiek kon dié begaafde mens emosies in jou hart losruk wat jy nie geweet het jy het nie.

Stand by Me

Imagine

Mother

Beautiful Boy

Jealous Guy

Bronne: mentalfloss.com, wikipedia.org, fox6now.com, ibtimes.com, sabc.co.za