Die 15-jarige dogter van Michael Jackson is steeds in die hospitaal nadat sy vroeër vandeesmaand haar polse gesny en pille gedrink het. TJ, een van haar voogde, het verklap dit gaan maar swaar, maar bygevoeg hy is hoopvol dat sy die terugslag sal oorkom.

TJ, Michael se broer Tito se seun, het op Donderdag 27 Junie gesê: “Paris het ’n hart van goud. Ek dink net die verlies van my oom het haar op ’n ander vlak getref. Sy is op ’n moeilike plek, maar ons is almal lief vir haar en doen alles moontlik om haar te kry waar sy moet wees. Dis moeilik. Sy was pappa se dogtertjie. My oom was haar wêreld.”

Tito het ook onthul Michael se ma, Katherine (83), sukkel om die mas op te kom sedert die popkoning se dood in Junie 2009 aan ’n oordosis propofol.

Hy het gesê: “Ons kinders is veronderstel om ons te oorleef. Dit is baie moeilik vir ons ouma. Hy was haar alles.”

Tito het ook Michael se seun Prince (16) geloof as ’n “wonderlike mens” en vertel Michael se jongste kind, Blanket (11), is baie skaam.

Hy het bygevoeg: “Prince was van kleins af een van die slimste kinders wat ek nog gesien of geken het. Hy het kleintyd al boeke verorber.

“Blanket was nog altyd baie skaam. Hy het altyd aan Michael se been vasgeklou. Waar my oom ook al was, daar was Blanket. My oom was alles vir Blanket.”

& Die Jacksons dagvaar die konsertpromotors AEG Live oor die feit dat hulle dr. Conrad Murray as Michael se dokter aangestel het sonder om hom behoorlik te ondersoek. Murray is aan manslag skuldig bevind vir sy rol in Michael se dood. AEG hou vol hulle is nie verantwoordelik nie, want Michael het sy middelmisbruik weggesteek.