Haar pa se dood in 2009 was die rede vir Paris Jackson se onlangse selfdoodpoging, het haar ma getuig.

Debbie Rowe, ’n voormalige verpleegster wat drie jaar lank met Michael Jackson getroud was, is ook die ma van sy twee oudste kinders, Prince (16) en Paris (15). Debbie getuig tans in die Jackson-familie se hofsaak teen die konsertpromotors AEG Live.

Debbie (54) het Donderdag 15 Augustus in die hof in Los Angeles gesê: “Hul pa is dood . . . ek het byna my dogter verloor. Sy is gebroke, sy het haarself probeer doodmaak. Dit voel nie meer vir haar of sy ’n lewe het nie.”

Debbie het toesig oor haar kinders prysgegee toe sy en die popsanger uitmekaar is. Sy het getuig sy het geen berou dat sy hulle by hom gelos het nie.

“Michael wou ’n pa wees. Ek wou nie ’n ma wees nie. Ek het hom baie liefgehad en is steeds lief vir hom. Ek wou hê hy moet ’n pa wees, ek wou hê hy moet alles hê wat hy nie gehad het toe hy grootgeword het nie, ek wou hê hy moet dit met sy eie kind ervaar, sy eie kinders.”

Die Jackson-familie dagvaar AEG Live weens die aanstelling van Michael se dokter Conrad Murry. Die Jacksons voel AEG was nalatig en het Conrad se werk nie goed genoeg dopgehou nie. Conrad dien tans vier jaar tronkstraf vir manslag uit aangesien hy Michael die propofol gegee het wat sy dood veroorsaak het.

Tydens haar getuienis die vorige dag het Debbie beweer dat haar voormalige werkgewer, dr. Arnie Klein, en dr. Steven Hoefflin het gekyk wie van hulle twee Michael van “beter dwelms” kon voorsien.

Sy het gesê: “Michael het ’n baie lae pyndrempel gehad en sy vrees vir pyn was ongelooflik. Ek dink die dokters het hom op daardie manier misbruik.”

Michael het hulle glo vertrou om medikasie aan hom voor te skryf, maar hulle het nie in sy beste belang opgetree nie en mekaar gedurig probeer oortref deur hom sterker dosisse pynmedikasie te gee.

Sy het gesê: “Hierdie idiote het die hele tyd heen en weer gegaan en nie vir hom omgegee nie,” en bygevoeg Conrad het “daar ingeklim en hom doodgemaak”.

Sy het gesê: “Die enigste dokter wat ooit iets gedoen het, die enigste dokter wat vir Michael omgegee het, was Allan Metzger. Ek was waarskynlik een van die enigstes wat vir MJ nee gesê het.”