Debbie Rowe het aanhangers bedank vir hul ondersteuning van die 15-jarige aspirant-aktrise en gesê sy herstel goed in ’n hospitaal in Los Angeles.

Sy het Saterdag 29 Junie op Twitter geskryf: “My dogter het gevra ek moet vir almal baie dankie sê vir hul gedagtes, gebede en ondersteuning.”

Paris word steeds in ’n psigiatriese afdeling van die hospitaal behandel nadat sy verlede maand ’n oordosis pynstillers gedrink en haar polse gesny het. Dit was glo omdat sy sukkel om aan te pas by die lewe sonder haar pa, wat in 2009 aan ’n oordosis propofol dood is.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê: “Dit spruit regtig daaruit dat sy nog nie verwerk het dat haar pa weg is nie. Dit was vir haar baie moeilik.”

Nog ’n bron hou vol Paris wil beter word en het gesê: “Ek weet Paris het kop verloor en het agterna berou wat sy gedoen het. Dis toe dat sy om hulp geskree het. Dit het haar lewe gered.”

Paris woon sedert die popkoning se dood saam met haar broers, Prince (16) en Blanket (11), by haar ouma Katherine Jackson (83) in Calabasas, Kalifornië.

Die gekwelde tiener het die afgelope maande ’n hegter band gesmee met Debbie, wat haar reg tot toesig laat vaar het toe sy in 1999 van Michael geskei is.