Jermaine (58) erken Michael se dood in 2009 het Paris (15) die hardste getref, maar voel sy moet by haar versorgers se reëls leer hou. Paris het verlede maand haar lewe probeer neem en is steeds in ’n hospitaal in Los Angeles.

Toe hy gevra is of hy saamstem met Paris se voog TJ Jackson dat Paris Michael se dood die moeilikste verwerk, het Jermaine aan TMZ.com gesê: “Ja, maar sy moet maar leer daar is riglyne wanneer jy nog ’n tiener is. Daar is reëls.”

Paris het glo 20 pynpille gedrink en haar polse gesny nadat sy nie na ’n Marilyn Manson-konsert toe kon gaan nie. Jermaine dink dis Paris se voogde, TJ en haar ouma Katherine Jackson, se skuld: “Ek dink net . . . hulle kon ’n bietjie strenger gewees het.”

TJ het voorheen geïnsinueer Paris is al sedert haar pa se dood depressief: “Paris het ’n hart van goud. Ek dink my oom se dood het haar baie hard getref. Sy gaan deur ’n moeilike tyd. Ons is lief vir haar en doen alles in ons vermoë om haar te help. Dis swaar; my oom was haar hele wêreld.”